Skoonmakers word planmakers

Die huidige chaos by Namibiese grensposte skep sakegeleenthede vir entrepreneurs.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



As dit pap reën, dan skep jy. Sommer emmers vol - van lugtyd tot koeldrank tot 'n ietsie sterker vir moeë en gefrustreerde reisigers wat hulle in paspoortfoto's en duimafdrukke by 'n grenspos vasloop.

Vir uit die ry glip vir 'n knertsie of 'n fluit is daar nie 'n kans nie, want kom jy terug, moet jy maar weer agter nommer 81 inval en hoop jy's Namibië deur die poorte binne voor tjailatyd.

Maar skoonmakers het 'n plan gemaak en slaan nou goed munt uit die grensberoeringe op Buitepos.

Lugtyd, koeldrank en aankope met 'n ouderdomsbeperking word by die naaste vulstasie en winkel aangeskaf en na die ellelange rye sittendes en staandes gekarwei wat maar te dankbaar daarvoor is.

Me. Delia Mostert, trotse oud-Namibiër wat nou in Suid-Afrika bly, sê hulle was Sondag omstreeks 18:10 op hul pos op Buite­pos.

Eers 'n halfuur ná middernag sou hulle uiteindelik weer voet in hul geliefde Namibië kon sit.

Volgens Mostert is voorkeur aan pensioenarisse gegee, wat maar min gehelp het as die oues 'n voertuig met dié onder 60 gedeel het. Die toilette was glo 'n toneel waaroor jy nie graag huis toe wil skryf nie.

“Jy kan nie eers daar instap nie, dan lê die vuil water op die vloere. Die toilet is van bo tot onder besmeer, jy ruik dit op 'n afstand,” het Mostert gesê.

Saam met hulle in die ry was tussen 300 en 350 mense wat Suid-Afrikaners en buitelandse toeriste ingesluit het.

“Ons wou nie hê hulle moet Namibië se naam as gevolg hiervan in die buiteland gaan sleg maak nie. Ons reis vier keer per jaar na Namibië en dit is die eerste keer sedert 1981 wat so iets gebeur.”

Met 'n vorige besoek in Oktober aan Namibië het Mostert-hulle ook by Buite­pos aangedoen.

Hoewel die nuwe stelsel wat nou soveel kopsere veroorsaak, ook toe in werking was, is hul duimafdrukke nie vereis nie.

“Die antwoord was hulle vat nie pensioenarisse se duimafdrukke nie, want hulle is nie 'n vlugrisiko nie!”

Volgens Mostert moes die polisie se hulp selfs ingeroep word toe humeure Sondag van frustrasie begin opvlam en van die mense handgemeen met mekaar geraak het.

Intussen het skoonmakers fluks sake gedoen met 'n rits skielike kliënte wat maar te dankbaar vir 'n koue versnapering was.

Mostert sê teen 02:45 Maandag is haar gesel­skap van vier uiteindelik met slaapplek in 'n lodge geholpe.

“Ons het basies water en 'n paar koekies by ons gehad,” sê sy.

Toeriste wat egter nie so gelukkig was nie, moes noodgedwonge langs die pad tydelike skuiling in hul voertuie vind.

“Ons as oud-­Namibiërs ken die opset en die pad, buitelanders ken dit glad nie. Dis gevaarlik om daardie tyd van die nag te wil ry met koedoes op die pad. Die enigste opsie is dan maar om eerder in jou voertuig te slaap.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer