Skool sluit nu00e1 leerling positief toets
Skool sluit nu00e1 leerling positief toets

Skool sluit ná leerling positief toets

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Vyf nuwe gevalle van Covid-19 is oor 'n tydperk van 24 uur in Namibië aangeteken, waarvan twee in die Erongostreek is.

Een van die gevalle is 'n 20-jarige leerling van die Sekondêre Skool Mariental wat op Walvisbaai woon, maar op Mariental skoolgaan en op die suidedorp getoets is.

Die skool het laat gistermiddag in 'n verklaring en by monde van sy skoolhoof, mnr. A.J. Stein, gesê hoërisiko kontakte sal in kwarantyn geplaas word.

Alle klaskamers en ook die koshuis sal ontsmet word, terwyl alle koshuisleerlinge vir 14 dae in kwarantyn in die koshuis gehou sal word. Klasse is ook sedert gister vir twee weke opgeskort.

Ouers en voogde word deur Stein aangemoedig om te verseker dat alle leerlinge “van buite” in selfisolasie is. Alle werkers, leerlinge, onderwysers en ouers van die skool word gemaan om op die uitkyk te wees vir Covid-19-verwante simptome. Sou enige persoon dié simptome ervaar, moet hulle onmiddellik by die toetssentrum in die ou Bank Windhoek-gebou in die dorp aanmeld.

Dit bring die totaal in Namibië op 39 Covid-19-gevalle te staan.

Geval 39 is 'n 55-jarige Namibiese vrou van Swakopmund met geen reisgeskiedenis of enige kontak met 'n bevestigde geval nie.

Sy is op 17 Junie in die Cottage-hospitaal op die dorp met koors en lyfseer opgeneem.

Geval 38 is 'n 22-jarige ­vroulike student wat vanaf Engeland in Na­mibië aangekom het en in kwarantyn in Windhoek was.

Geval 37 is 'n 20-jarige manstudent op Mariental wat op 2 Junie vanaf Walvisbaai na die suidedorp gereis het. Hoewel hy 'n inwoner van Walvisbaai is, val sy geval onder Mariental en die Hardapstreek omdat hy hier getoets is.

Laat Woensdag het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), dr. Kalumbi Shangula, ook gevalle 35 en 36 aangekondig.

Geval 36 is 'n 44-jarige Malawiese man wat op 3 Junie alleen vanaf Malawi deur die Chipata-grens Zambië binnegegaan het.

Hy het Namibië op 5 Junie by Katima Mulilo binnegekom, waar hy onder kwarantyn geplaas is. Hy het geen Covid-19-verwante simptome nie en is in 'n bevredigende toestand. Hy is intussen in 'n isolasie-eenheid opgeneem.

Geval 35 is 'n 26-jarige Namibiese man wat op Walvisbaai woon. Hy het sedert 14 Junie simptome soos kort­asem, hoes, koors en kopseer ervaar en op 15 Junie 'n hospitaal op Walvisbaai gebel om dit aan te meld. Hy is per ambulans na die hospitaal geneem waar hy getoets en in die isolasiesaal opgeneem is.

Met verwysing na geval 22, 'n 63-jarige man van Walvisbaai, het Shangula gesê hy is steeds in die intensiewesorgeenheid van die Welwitschia Private Hospitaal, maar is van die ventilator afgehaal en toon baie goeie vordering.

Uit die 39 bevestigde gevalle het 19 ten volle herstel en 20 is aktief. Shangula het ook bekend gemaak geval 26, 'n 44-jarige Namibiese man wat in die departement van finansies by die Welwitschia Private Hospitaal werk, het ten volle herstel.

Tot op hede is 6 219 weefselmonsters getoets, waarvan 182 Woensdag getoets is. Shangula sê 109 kontakte is uit die jongste gevalle geïdentifiseer en word gemonitor.

Tans is 685 mense in kwarantyn in geriewe oral in die land.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer