Skole op Rehoboth het weer water
Ouers op Rehoboth was onstoke oor “onskuldige kinders wat ly” aangesien watertoevoer na skole afgesny is.
Henriette Lamprecht
Die watertoevoer na skole op Rehoboth is Maandag herstel nadat dit dieselfde dag weens wanbetaling afgesny is. Ouers is Maandag laat weet geen water is by skole beskikbaar nie. Opdrag is deur verskeie skole aan ouers gegee dat graad 0- tot 3-leerlinge eerder tuis moet bly en net Vrydag hul rapporte by die onderskeie skole moet gaan afhaal. Regeringskole sluit Vrydag vir die Desembervakansie. Graad 4- tot 7-leerlinge wat nog eksamen skryf, kon teen 09:00 ná afloop van die eksamen huis toe gaan.
Volgens 'n omsendbrief van die Primêre Skool St. Joseph was die reëlings nodig omdat hul water afgesny is, terwyl die Primêre Skool Ruimte ouers laat weet het “die watermeters is by alle skole in Rehoboth uitgehaal en geen water- en toiletgeriewe is by die skool beskikbaar nie”.
Me. Nathalia /Goagoses, die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling se verteenwoordiger op Rehoboth, het gister bevestig die watertoevoer is Maandag reeds na die skole herstel.
Dit het gevolg nadat die ministerie van onderwys, kuns en kultuur onderneem het om 'n gedeelte van hul skuld te vereffen. Volgens haar beloop die skuld N$5 miljoen en is onderneem om N$1,5 miljoen daarvan te betaal.
/Goagoses het in November 'n beroep op inwoners gedoen om reëlings vir die afbetaling van hul agterstallige rekenings te tref voordat sy hulle “in die leeu se mond gooi”. Sy het ook gemaan sy is genadeloos in dié verband en besighede wat nie reëlings vir betaling tref nie, se dienste sál opgeskort word. Goagoses het vroeër vandeesmaand gesê die dorp se agterstallige skuld aan NamPower beloop N$84 miljoen, terwyl NamPower toe gewag het vir N$29 miljoen wat aan hom verskuldig is. Intussen het inwoners op sosiale media hul misnoeë met die waterlose skole te kenne gegee.
“Water kan mos regtig nie afgesit word by 'n skool ten koste van ons kinders nie. Onderwys skuld die water by die dorpsraad, hoekom moet 'n onskuldige kind daaronder ly?” het een gevra.
'n Ander het uitgevaar teen /Goagoses en gesê die sny van water en krag op die dorp “verneder” inwoners. Nog 'n inwoner het laat weet die dorp se strate is “vol laerskoolkinders en ook graad 9- en 11-leerlinge” wat as die “grootste grap van die jaar” beskryf is.
“Kinders kan nie skool toe gaan nie, want skole het nie water of krag nie. Wat sê dit van onderwys? Dit het nog nooit in die verlede gebeur nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie