• Tuisblad
  • Sake
  • Skeepsredery in die sop oor vervoer van Toyotas
Skeepsredery in die sop oor vervoer van Toyotas
Skeepsredery in die sop oor vervoer van Toyotas

Skeepsredery in die sop oor vervoer van Toyotas

'n Japanse maatskappy wat vanuit Suid-Afrika betrokke is by die vervoer van Toyota-voertuie na buitelandse markte, is in die sop by die mededingingskommissie oor beweerde samespanning.
Estelle de Bruyn
Die Suid-Afrikaanse mededingings­kommissie het Maandag by die mededingingstribunaal aan­beveel dat Kawasaki Kisen Kaisha (K-Line) vervolg word vir samespanning met die vervoer van Toyota-voertuie.

Die kommissie beweer K-Line het pryse vasgestel, die mark verdeel en hom skuldig gemaak aan tendersamespanning wat betref die skeepsvervoer van nuwe Toyota-voertuie van Suid-­Afrika af na Europa, Noord-Afrika, die Karibiese Eilande, Wes- en Oos-Afrika en Latyns-Amerika.

Dit kom ná die ondersoek waarin die kommissie bevind het K-Line, die Japanse skeepsrederye MOL en NYK en die Noorse skeepsredery Wallenius Wilhelmsen Logistics (WWL) het pryse vasgestel, markte verdeel en saamgespan met tenders vir die vervoer van Toyota-­voertuie.

Daar is bevind hulle het van minstens 2002 tot 2013 dié oortredings van die Mededingingswet begaan. Hulle het ooreengekom hoeveel skepe hulle sou bedryf op die roete tussen Suid-Afrika en Europa en hoe gereeld.

Hulle het ook ooreengekom oor die vragtariewe wat hulle vir Toyota Suid-Afrika sou vra.

NYK en WWL het in 2015 reeds erken hulle het saamgespan. NYK het 'n boete van R103,9 miljoen betaal, en WWL 'n boete van R95,69 miljoen. MOL het die boete vrygespring omdat hy eerste die kommissie genader het en saamgewerk het, luidens 'n verklaring van Sipho Ngwema, kommunikasiehoof van die kommissie.

Die kommissie wil hê die tribunaal moet K-Line 'n boete van 10% van sy jaarlikse omset oplê.

“Suid-Afrika is 'n strategiese nodus vir handel in Suider-Afrika. Kartelle deur skeepsrederye lei tot hoër pryse vir vragvervoer. Dit verhoog die koste van handel en maak die streek onmededingend. Sulke kartelle het die uitwerking om die ekonomiese groei van die streek wesenlik te ontwrig,” het Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie, gesê.

K-Line het in 2009 saam met Bidvest 'n gesamentlike onderneming in Suid-Afrika begin, met kantore in Durban, Kaapstad en Johannesburg, volgens sy plaaslike webruimte.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer