SKA, MeerKAT skep u2018monster van groot datau2019
SKA, MeerKAT skep u2018monster van groot datau2019

SKA, MeerKAT skep ‘monster van groot data’

Die SKA en MeerKAT het ’n “monster van groot data geskep wat ons moes oplos voordat ons die inligting daaruit kon onttrek”.

Só het prof. Russ Taylor, direkteur van die Inter-Universitêre Instituut vir Data-intensiewe Astronomie (Idia), Maandag gesê toe dié instituut gewys het hoe sy nuwe navorsingswolk vir sterrekunde werk.

Idia is drie jaar gelede begin deur die universiteite van Wes-Kaapland, Kaapstad, en Pretoria sodat die groot data van reuse- wetenskaplike instrumente soos MeerKAT hanteer kan word. Dit kan ook nou gevisualiseer word by die Iziko-museum se planetarium se nuwe digitale koepel.

Taylor, wat ook ’n SKA-leerstoel beklee, het tydens die voorlegging by die planetarium gesê MeerKAT en die SKA sal vrae vra soos: Is ons die enigste lewe in die heelal? Wat is die aard van realiteit? Wat is die eienskappe van tyd en ruimte? Maar indien die groot data nie hanteer kan word nie, sal die vrae nie beantwoord kan word nie.

GROOTSTE UITDAGING

“Groot data is wetenskap se grootste uitdaging oor die volgende tien jaar. Dié oplossings sal ons in Suid-Afrika moet vind,” het hy gesê.

Dr. Fernando Camilo, hoofwetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie-sterrewag (Sarao), sê daar is agt wetenskapprogramme vir MeerKAT waarvan vyf se data met behulp van Idia geanaliseer sal word. MeerKAT stuur sodat 300 gigagrepe data per sekonde na die korreleerder op die terrein. Uit die korreleerder word tien gigagrepe data per sekonde verwerk en een gigagreep per sekonde word gestoor vir analise.

Hieruit moet kenners sin maak en later ’n beeld vorm.

Data van MeerKAT of die optiese robotteleskoop in Sutherland, MeerLICHT, is verbind met optiese vesel met die Kaapstad.

Dr. Sarah Blyth van die Universiteit van Kaapstad het gesê kinders wat vandag op hoërskool is, sal as studente die geleentheid kry om deel te wees van SKA se eerste fase en dié wat op laerskool is, met die laaste fase.

Sy het bygevoeg om data in die planetarium te visualiseer is baie belangrik, omdat dit iets is wat nie op ’n skootrekenaar gedoen kan word nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer