'Situasie is skrikwekkend'

Binne die bestek van drie dae is ’n totaal van 3 876 Covid-19-gevalle aangemeld, waarvan 2 127 in Windhoek was.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – “Die situasie is skrikwekkend.”
So het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, Vrydag reeds die geweldige styging in die aantal positiewe Covid-19-gevalle beskryf, met rekordgetalle van oor die duisend per dag wat van Donderdag tot Saterdag aangekondig is.
Die afgelope week het die pandemie verskeie bekendes geëis – onder wie mnr. Rudi van Wyk, Rehoboth se burgemeester; mnr. De Waal Louw, voorsitter van die Gobabis-munisipaliteit se bestuurskomitee; eerw. Willem Konjore, ’n voormalige minister van die omgewing en ook van sport, jeug en nasionale diens; mnre. Werner Jeffery (sportadministrateur) en Jonathan Sam.

Binne die bestek van drie dae is ’n totaal van 3 876 (1 292 per dag) Covid-gevalle aangemeld, waarvoor Windhoek alleen vir 2 127 (709 per dag) verantwoordelik was.

Oor die drie dae is 43 sterftes (14 per dag) aangeteken, terwyl Namibië se herstelkoers nou op ’n skrale 84% staan teenoor die 94% van ’n maand of drie gelede.

Shangula het gesê sou daar ’n behoefte ontstaan om die huidige Covid-19-regulasies te wysig, sal so ’n besluit “op die gebruiklike manier gekommunikeer word”.

Hy het die publiek gemaan om “versigtig te wees, openbare gesondheidsregulasies te volg en hulle teen Covid te laat inent”.

Honderde mense het Vrydag na onder meer die Robert Mugabe-kliniek en die Wanderers-sportterrein gestroom om getoets te word. Inentingspersele in die hoofstad is ook oorval deur Namibiërs wat hulle wil laat inent, in so ’n mate dat inentingspunte by die Katutura- en Windhoek Sentrale hospitaal, sowel as by klinieke by Otjomuise en die Mix-plakkerskamp Saterdag tot 16:00 inentings gedoen het.

Volgens die direkteur van primêre gesondheidsorg in die ministerie, me. Naemi Shoopala, ervaar die ministerie tans ’n toename in mense wat hulle teen Covid wil laat inent.

Shoopala sê die toename in aanvraag is nie net tot die hoofstad beperk nie, maar word landswyd ervaar. Sy het egter erken daar is steeds streke soos Omusati, Oshana, Oshikoto en Zambezi waar inwoners traag is om vir inentings te gaan.

Met verwysing na die beplande aankoms van die volgende besending entstowwe van Covax, het Shoopala gesê dit word einde Junie of vroeg in Julie afgelewer. Dit is egter gebaseer op die beskikbare hoeveelheid dosisse van die vervaardiger.

“Die tipe en hoeveelheid hang ook af van dit wat beskikbaar is, maar lande het ook hul voorkeure aangedui,” het Shoopala gesê.

Volgens Shoopala het Namibië egter ook vervaardigers soos Sinopharm en die Afrika Mediese Voorrade-platform onder die vaandel van die Afrika-unie betrek om entstowwe te bekom.

Sy sê volgens die ministerie se inentingsprotokol sal individue dieselfde tipe entstof vir die eerste en tweede dosisse ontvang.
[email protected]

FOTO’s
Mediese afval lê buite die Robert Mugabe-kliniek in Windhoek. FOTO VERSKAF
Mediese toerusting hang buite die Robert Mugabe-kliniek in Windhoek. FOTO VERSKAF
Motors staan in rye by die Wanderers-sportklub waar mense wag om vir Covid getoets te word. FOTO TANJA BAUSE

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer