Simataa reg vir ACC, su00ea hy
Simataa reg vir ACC, su00ea hy

Simataa reg vir ACC, sê hy

Die storm woed voort wat ’n betaling van N$50 000 aan ’n Suid-Afrikaanse regsman vir ’n lesing ontketen het.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die kabinetsekretaris, dr. George Simataa, het gisteroggend (Maandag) gesê hy het geen probleem om onder eed inligting aan die Teenkorrupsiekommissie (ACC) te verskaf nie.

Dít kom nadat mnr. Paulus Noa, die direkteur-generaal van die ACC, die afgelope naweek aan Namibian Sun, Republikein se susterkoerant, gesê het Simataa sal ’n beëdigde verklaring moet aflê oor N$50 000 wat Fishcor aan adv. Thembeka Ngcukaitobi vir ’n grondberaadpraatjie betaal het.

Dié vismaatskappy bevind hom midde-in ’n internasionale skandaal oor geplunderde viskwotas – glo deur verskeie politieke grootkoppe.

Kort nadat dit verlede week rugbaar geword het die ACC soek antwoorde by Ngcukaitobi het Simataa ’n verklaring uitgereik om die betaling te verduidelik.

Vrae word sedertdien gevra oor hoekom ’n staatsdiensonderneming (Fishcor) geld regstreeks aan die regsgeleerde betaal het in plaas van aan die grondberaadkomitee.

Oor die moontlike dagvaarding het Simataa gisteroggend via WhatsApp laat weet: “Dis reg met my.”

Die ACC het by monde van sy woordvoerder, me. Josefina Nghituwamata, gesê: “Adv. Ngcukaitobi het sy bereidwilligheid verklaar om te reageer op die dagvaarding wat op hom beteken is.”

Hoewel Ngcukaitobi verlede week dae lank in Namibië was, het Nghituwamata gister gesê hulle weet nie wanneer die Suid-Afrikaanse advokaat sy belofte sal nakom nie.

“Tans het ons nie ’n spesifieke datum nie.”

Agtergrond

Simataa het Donderdagmiddag beweer dié N$50 000 was ’n betaling aan Ngcukaitobi vir ’n lesing by die regering se grondkonferensie in Oktober 2018.

Volgens die kabinetsekretaris het die konferensie nie net logistieke en materiële insette geverg nie, maar was dit ook noodsaaklik om mense met geskikte kennis te nooi.

Derhalwe, het Simataa gesê, is Ngcukaitobi genooi om die regering te help om oor grondhervorming te besin.

Ngcukaitobi is die skrywer van The Land Is Ours: Black Lawyers and the Birth of Constitutionalism in South Africa.

Omdat die grondkonferensie ’n baie duur affêre was, het die regering staatsdiensondernemings (SOE’s) om hulp genader, het Simataa gesê.

Dit is glo hoe hulle by Fishcor geld gevra en gekry het.

Behalwe om Donderdag Simataa se verklaring aan te stuur, het Ngcukaitobi nog self geen amptelike woord gerep oor die betaling nie.

Hy was verlede week in Namibië vir die jongste poging deur die sogenaamde Fishrot-beskuldigdes om vrygelaat te word.

Hulle is mnre. Bernhard Esau, Sacky Shanghala, James Hatuikulipi, Ricardo Gustavo, Tamson Hatuikulipi en Pius Mwatelulo.

Fishcor se geskorste uitvoerende hoof, mnr. Mike Nghipunya, is ook intussen weens die beweerde korrupsie aangekeer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer