Sien is glo

Mandy Rittmann
GÜNTHER FRIEDERICH SKRYF:

Ek verwys na voorbladartikel in Republikein van Maandag 22 Januarie 2021, "Omuramba Ovambo bereik Etosha".

Ek het die verwaandheid om te beweer dat feite gegee oor die omuramba nie korrek is nie.

Ek het op Wikipedia oor die Omuramba opgesoek. Die een bladsy beweer die Omuramba se begin is 25 km suidoos van Tsintsabis. Dit maak die plase van oorsprong naastenby Gorooab-Oos no. 294 en Stilhoek no. 823.

Die ander bladsy, ook Wikipedia, neem die oorsprong op 5 km van Tsintsabis. Geen rigting aangedui.

Watter een is reg? Nie een daarvan.

En selfs bekende toerisme-organisasies in die land dupliseer die foutiewe inligting.

Vanaf Tsintsabis stroomop deurkruis die omuramba hoofsaaklik in ’n oostelike rigting die plase Last Hope 880, Wildernis 882, Driehoek 883 en Driemaal 1060. Eers hier draai die omuramba in ’n suidoostelike rigting, dan deur Kaukuas 1056 en Keibeb 287, tot sovêr op die 1:1 000 000 van 1994 se Namibiese plaaskaart aangedui.

Die gebied suidoos van Keibeb, ’n reusegebied wat selfs tot oos van die pad na Rundu strek, se water vloei alles uiteindelik in die Omuramba Ovambo.

Op die plaas Driehoek 883 sluit ’n ander omuramba hierby aan. Hierdie rivier kom uit die plase Tsutsab 293 en Choantsas 292 en versamel sy water uit plase suidoos van die twee. Die San (boesmans) noem die omuramba Kabaseb.

Die plase bo genoem, Gorooab-Oos 293 en Stilhoek, se water wat ook vanuit die suidooste afkomstig is, sluit by die Omuramba Ovambo, wes van Tsintsabis aan.

Daardie omuramba,’n groot sytak van die Ovambo, word op Tracks 4 Africa verkeerdelik as die Omuramba Ovambo aangedui. Ten spyte van my insette is dit nog nie gekorrigeer nie.

Tot en met 2011, toe daardie omgewing ook onder water was, was ek eienaar van die plase Tsutsab en Gorooab-Oos.

Ek ken daardie waters uit 1974, 1989, 2011 en ander jare voor dit tydens my ouers se tyd op die plaas. Ek weet waarvan ek praat. Ons familie het nog langer in daardie omgewing op etlike plase geboer, en is nog steeds daar.

Ek heg ook 'n paar foto's aan.

Gedurende 1974 was die water so 2,2 m hoog en kon net met ’n vlot oorgesteek word.

Die foto's gee maar net ’n indruk. Jy moet daardie massas water self beleef om dit te waardeer.

Op my ou plaas is daar ’n vlei van 300 ha wat nou onder water staan.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer