Shuudifonya se kierankies braai
Shuudifonya se kierankies braai

Shuudifonya se kierankies braai

Een van die twee mans wat onlangs by die Fishrot-skandaal betrek is, het stotterend deur 'n ondervragingsessie gespook.
Jemima Beukes
Jemima Beukes – Gedurende 'n ondervraging deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het mnr. Otneel Shuudifonya stotterend vrae beantwoord oor N$13 miljoen wat sy maatskappye moontlik op 'n oneerlike wyse ontvang het wat met die Fishrot-skandaal verband hou.

Shuudifonya, die Otjozondjopa-streekraad se adjunkdirekteur van landelike dienste en mede-eienaar van Fine Seafood cc, word al lank beskou as 'n front vir mnr. Mike Nghipunya, die voormalige uitvoerende hoof van Fishcor, wat N$1,3 miljoen in Fine Seafood belê het.

Die geld was 'n lening van Nghipunya wat hy sou moes terugbetaal, het Shuudifonya aan die ACC-ondersoekbeamptes gesê.

Hy kon nie bewys dat hierdie geld – wat hy glo nie geweet het aan Fishrot gekoppel is nie – aan Nghipunya terugbetaal is nie.

Ondersoekers glo Nghipunya, wat in aanhouding en verhoorafwagtend is, was 'n stille vennoot en ondertekenaar van Fine Seafood.

Nghipunya en sy medebeskuldigdes in die Fishrot-omkoopskandaal staan tereg op aanklagte van bedrog, oortreding van die Anti-korrupsiewet, korrupte gebruik van hul kantoor vir eie gewin en geldwassery.



'PERSOONLIKE LENING'

Volgens Shuudifonya het hy en sy sakevennoot, ene Samuel, N$1,3 miljoen by Nghipunya geleen om Fine Seafood op die been te kry.

Dié geld is gebruik om vraghouers te koop om hul visvoorraad oraloor die land by hul sentrums beskikbaar te stel – insluitend Otjiwarongo en Ondangwa.

Toe mnr. Karel Cloete, 'n ACC-ondersoekbeampte, hom ingelig het dat dié N$1,3 miljoen uit misdaadverwante opbrengste betaal is, het Shuudifonya gesê hy was heeltemal onbewus daarvan.

“Hoe sal ek weet? As iemand 'n positiewe kontantlening het en bereid is om te help, hoe sal ek weet dat die bron van hierdie fondse hierdie soort transaksies is? Ons weet nie,” het hy gesê.

Shuudifonya het ook gesê hy het geen idee gehad 'n betaling van N$10 miljoen – deur Saga Seafood – is deur Nghipunya as Fishcor-hoof goedgekeur nie.



VISVOER

Hy het gesê mnr. Egill Arnason van Saga Seafood het hom in 2019 genader met die voorstel om visvoer aan te skaf en te produseer en uiteindelik visvoer te produseer vir die akwakultuursektor in Namibië.

Shuudifonya het gesê op grond van dié gesprek het hy 'n begroting opgestel en fakture aan Saga Seafood uitgereik om die bal aan die rol te sit ter voorbereiding op die projek, asook om grond vir die projekte te identifiseer en om potensiële verskaffers te identifiseer.

Toe die geld egter in sy besigheidsrekening betaal is, het Shuudifonya dit gebruik om in 'n Horizon Fuel-projek te belê, pleks daarvan om die fondse te gebruik om die visvoerprojek te finansier.

Volgens Shuudifonya was die visvoerprojek moeilik om uit te voer, aangesien hy dokumente nodig gehad het om die produk in te voer.

Om dit plaaslik aan te skaf, was glo buite die kwessie, omdat die voorraad te min was.

Saga Seafood Namibia was die bedryfsmaatskappy vir die omstrede Yslandse vismaatskappy Samherji, wat in die middel van die Fishrot-omkoopskandaal is.

Shuudifonya het ter sprake gekom in die prokureur mnr. Sisa Namandje se beëdigde verklaring wat in verband met Fishrot aan die ACC voorgelê is.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer