• Tuisblad
  • Sake
  • Shoprite spring na Wiese sê oorname moontlik
Shoprite spring na Wiese su00ea oorname moontlik
Shoprite spring na Wiese su00ea oorname moontlik

Shoprite spring na Wiese sê oorname moontlik

Verhoog aandeel in Steinhoff tot 23%
Jo-Mare Duddy Booysen
Nellie Brand-Jonker - Shoprite se aandeelprys het Woensdag 4% hoër op R196,25 gesluit.

Die aandeelprys wat vir die meeste van die dag op een trant verhandel het, het van drie-uur die middag af met soveel gestyg.

Dit was net nadat ’n Reuters-berig die wêreld in is oor die maatskappy se grootste aandelehouer en voorsitter, Christo Wiese, wat in ’n onderhoud gesê het dit sal ’n “natuurlike ontwikkeling” wees as Steinhoff en Shoprite saamsmelt.

Wiese is ook in Steinhoff die grootste aandeelhouer­ en voorsitter.

Dit het gekom nadat Steinhoff Woensdag­oggend vroeg aangekondig het hy gaan ’n kapitaaluitbreiding doen, met sowat R24 miljard se aandele wat deur Wiese as strategiese belegger opgeneem gaan word.

Sy belang gaan van meer as 17% tot 23% verhoog.

“Wiese verhoog sy belang in Steinhoff wesenlik! Sien seker goeie waarde in langtermyngroei . . . ” het Steinman de Bruyn, direkteur van Capilis Asset Managers, getwiet.

Saam met die transaksie is ook aangekondig dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ’n swartbemagtigingstran­saksie gaan fasiliteer. Die swart maatskappy gaan ’n belang van sowat 1% teen R4,5 miljard kry.

’n Versnelde boekbou het ook aan beleggingsinstellings begin om 110 miljoen nuwe aandele aan hulle te verkoop.

Sasha Naryshkine, batebestuurder van Vestact, sê Steinhoff kan tot €2,4 miljard (sowat R36,6 miljard) insamel. “Sjoe, dit verteenwoordig omtrent 12,5% van die markwaarde van die maatskappy Dinsdagaand.

“Dit is nogal groot vir die maatskappy en wéér ’n teken dat Christo Wiese dié span op ’n wesenlike wyse ondersteun.”

Wiese kry die nuwe aandele deur Upington Investments, waarin ’n familietrust van hom beheer het.

Wiese verhoog sy belegging in Steinhoff as deel van sy strategie om ’n “strategiese langtermynbelegger” in die maat­skappy te wees, lui die verklaring.

Die geld wat ingesamel word deur Steinhoff gaan aangewend word om die transaksie met die Amerikaanse matrasmaatskappy wat onlangs aangekondig is en die afslagwinkelgroep Poundland van Brittanje te koop.

‘Gis’

“Die eintlike storie hier is oor Wiese, wat die finansiële steun en vernuf bevestig wat hy na die maatskappy bring,” het Mark Hodgson, ontleder van Avior, aan Bloomberg gesê.

“Hulle samel meer in as wat ek reken hulle benodig. Dit mag daarom wees dat daar nog transaksies in die pyplyn is.”

Naryshkine sê hy vermoed die OBK sal aanvanklik die aandele koop in Lancaster (wat die aandele vir die swart groep koop) en dan ’n swart ekonomiese transaksie doen.

“Dit is ’n baie groot transaksie, hoewel 60 miljoen aandele klein klink langs Wiese se formidabele hap van vyf keer plus dit.”

Wiese koop 312 miljoen aandele, Lancaster 60 miljoen en nuwe instellings 110 miljoen.

Die maatskappy het 4,09 miljard uitgereikte aandele.

Oor ’n moontlike same­smelting tussen Shoprite en Steinhoff het Wiese aan Reuters gesê: “Mense sal daaroor gis.

“Mense weet ek is 75 jaar oud en gelukkig het ek ’n seun wat saam met my in besigheid is, maar as ’n familie kyk ons voortdurend daarna om ons sakebelange te konsolideer. So dit sal op ’n manier ’n natuurlike ontwikkeling wees.”

Sedert Steinhoff einde 2014 vir Pepkor verkry het, het sommige ontleders ’n paar keer gegis dat Wiese saam met Whitey Basson, uitvoerende hoof van Shoprite, en Markus Jooste, uitvoerende hoof van Steinhoff, aan so ’n transaksie werk.

Wiese het in ’n onderhoud ook gesê hoewel hy hom uit die politiek wil hou, is dit duidelik dat die land se leierskap Suid-Afrika skade berokken.

“Dit is selfs vir ’n blinde duidelik dat die topleiers in die regering beskou word as ’n probleem. Dit help nie ons ekonomie nie, dit is ’n feit.”

Hy het egter gerugte van sommige ontleders dat hy sy welvaart wil beskerm deur van sy bates oorsee te skuif oor die onstuimige politiek verwerp. Wiese het heelwat belange in Brittanje, onder meer in eiendom, finansiële dienste en kleinhandel.

“Daar is geen neiging daarnatoe om te disinvesteer nie – om die waarheid te sê, dit is die teenoorgestelde.”

Die grootste styging op die JSE Woensdag was deur Steinhoff wat 6% gestyg het.

Shoprite het volgens Sharenet.com die sesde grootste styging vir die dag getoon.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer