Shoprite dalk weer in visier
Steinhoff, wat sy hoofnotering in Duitsland het, het in Desember ’n transaksie aangekondig wat daartoe sou lei dat hy die Shoprite-groep sou oorneem.
Nellie Brand-Jonker - ’n Oorname van die Shoprite-groep kan weer ’n moontlikheid wees noudat Steinhoff besluit het om sy kleinhandelbedrywighede in Afrika afsonderlik te noteer.
Ontleders bespiegel oor dié moontlikheid omdat die notering daarvan in Suid-Afrika met ’n kapitaalinsameling gepaard sal gaan.
Die notering gaan “vars moontlikhede met Shoprite open”, sê Sasha Naryshkine, ’n ontleder van Vestact. Steinhoff, wat sy hoofnotering in Duitsland het, het in Desember ’n transaksie aangekondig wat daartoe sou lei dat hy die Shoprite-groep sou oorneem. Shoprite sou deur die transaksie al Steinhoff se Afrika-ondernemings verkry.
Die transaksie is uiteindelik middel Februarie beëindig toe Shoprite en Steinhoff nie oor ’n aandeelruilverhouding kon ooreenkom nie. Christo Wiese, die grootste aandeelhouer in Shoprite en Steinhoff, het daarna laat blyk dit is dalk nie die einde van sy probeerslae om die maatskappye saam te gooi nie. Steinhoff het Woensdagmiddag ná die sluiting van die mark aangekondig hy “evalueer en inisieer” stappe om sy kleinhandelbedrywighede in Afrika apart op die JSE te noteer.
Sy Afrika-ondernemings sluit in Pepkor, JD Group, Unitrans Automotive, Steinbuild, Poco Suid-Afrika en Tekkie Town. Dié ondernemings sal deur een beherende maatskappy gehou word, wat voorlopig ListCo genoem word.
Naryshkine sê die rede vir die transaksie wat nou beoog word, is eenvoudig omdat “hulle die twee ondernemings wil skei in ’n Afrika-onderneming en ’n onderneming wat op die ontwikkelde markte gerig is”.
Hy glo dit kan in die derde kwartaal van 2017 gebeur. Investec het in ’n ontleding Vrydagoggend gesê hy het reeds in Januarie voorspel die uiteinde van die transaksie wat Desember aangekondig is, moet wees vir Steinhoff om sy Suid-Afrikaanse bates te noteer en te ontknoop. Dit is ’n skoner struktuur en sal beleggers toelaat om te kies tussen ’n kleinhandelreus in Afrika en ’n kleinhandelreus wat op die ontwikkelde markte fokus. Steinhoff het talle oorsese meubelmaatskappye en ander kleinhandelondernemings.
“Die groot vraag is egter waarvoor die kapitaal aangewend word.”
Die bank meen ’n “betekenisvolle verkryging” soos Shoprite kan dan dalk volg. Mark Hodgson van Avior meen die struktuur van die transaksie stem ooreen met wat in Desember met Shoprite aangekondig is. Hy meen omdat die mark nou ’n waarde kan plaas op die maatskappy wat gaan noteer, maak dit ’n “nuwe potensiële skakel” met Shoprite moontlik.
Steinhoff sal die beherende belang in die nuwe maatskappy behou. Die kapitaalinsameling is ook nodig om aan die nuwe genoteerde maatskappy genoeg vrye verhandelde aandele te gee om aan die JSE se noteringsvereistes te voldoen. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie