Shikodi sluit jaar af as klubkampioen
Shikodi sluit jaar af as klubkampioen

Shikodi sluit jaar af as klubkampioen

Gholf
Die Windhoek Gholf- en Buiteklub het laas Saterdag sy 2019 klubkampioenskap aangebied, met die Windhoek Buitekluboord as die hoofborg.

Ná 'n goeie dag se werk (77 en 67) het Gabriel Shikodi (voorgee -2) die trofee as die Buiteklub se kampioenspeler ontvang, terwyl Celonika Robinson haar vrouetitel suksesvol verdedig het.

Die gholfbaan lyk tans in goeie kondisie, hoewel die onlangse herplanting van gras daartoe gelei het dat vier setperke volgens die “two-putt”-reël gespeel is (net een sethou toegelaat, waarna die bal opgetel word en een hou bygetel word indien die bal nie in die putjie was nie).

Die rede vir die vroeë herplanting van die setperke is omdat die padbou-aktiwiteite op die westelike verbypad vroeër begin het as wat beplan was en omdat die waardevolle gras van die rolbalklub andersins verlore sou gaan.

Die organiseerders bedank elkeen van die 41 spelers wat aan die klubkampioenskap deelgeneem het.

Saterdag is 36 putjies gespeel met die eerste afslaantye vanaf 07:00. Namate die dag gevorder het, het die hitte al hoe erger geword, maar almal het darem enduit oorleef.

Die voorste uitslae was soos volg:

Algehele wenner (beste bruto): Gabriel Shikodi (144).

Beste netto telling: Inklous Suze (131).

A-afdeling, beste bruto: Jan van Wyk (149).

A-afdeling, beste netto: George Vink (144).

B-afdeling, beste bruto: Michael Hoeseb (155).

B-afdeling, beste netto: Cor Beuke (137).

C-afdeling, beste bruto: Ian Wood (174).

C-afdeling, beste netto: Trevor Mills (139).

Vrouekampioen (beste bruto): Celonika Robinson (182).

Vroue, beste netto: Hansina Hinda (142).

Junior kampioen (beste bruto): Charlie Lohman (158).

Daar was ook vier pryse vir die houe naaste aan die pen wat deur Gabriel Shikodi (putjie 3), George Vink (putjie 9), Anton Crossman (putjie 13) en Sakkie Matheus (putjie 17) losgeslaan is.

• Die klubkampioenskap was die Buiteklub se laaste kompetisie vir die jaar. Komende Saterdag word die gholfklub se eerste jaarlikse jaareindfunksie op die eerste verdieping aangebied.

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer