Shiimi prontuit met Quest
Shiimi prontuit met Quest

Shiimi prontuit met Quest

In 'n onderhoud met CNN het die finansminister onder meer vrae oor Covid-19, hernubare krag en die Kavango-oliesoektog beantwoord.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, het Dins­dagaand in die Amerikaanse televisieprogram, The Exchange, op CCN met Richard Quest gepraat oor die Covid-19-inperkings in Namibië, die ekonomiese situasie, hernubare kragprojekte en die soektog na olie in die Kavango-kom.

Shiimi het uitgebrei oor die risiko wat die Covid-maatreëls vir die ­ekonomie inhou te midde die derde golf van infeksies landswyd.

“Die pandemie het die ekonomie ontwrig, net toe ons 'n herstelkoers van 2,2% voorspel het. Dit was 'n terugslag met die stygende aantal Covid-positiewe gevalle, maar ons hoop die ekonomie kan oor die volgende paar maande stabiliseer, en ons werk hard daaraan,” het Shiimi gesê.

Volgens hom moet 'n balans tussen die bekamping van die pandemie en die oorlewing van die ekonomie ­gehandhaaf word.

“Ons moet op een of ander manier beweging beperk, maar ons het lesse uit verlede jaar se inperking geleer, en ons weet 'n algehele inperking knou die ekonomie,” sê hy.

Nogtans stem Shiimi en Quest saam dit is noodsaaklik vir Namibië om Covid te beheer om die land se planne te implementeer, “en dit is hoekom ons so aggressief is in ons pogings om die verspreiding te bekamp. As die situasie vererger, sal ons bykomende maatreëls toepas,” sê Shiimi.



SONKRAGAANLEG

Die minister het vir Quest ­verseker die beplanning van 'n massa-sonkrag­aanleg in vennoot­skap met Botswana sal voortgaan, omdat sonlig, 'n volhoubare hernubare bron van energie, volop in die streek en veral in Namibië is.

“Ons moet dit benut om Namibië en die res van Suider-Afrika te help om beter te herbou,” sê hy.

“Ons is dankbaar vir die Amerikaanse regering. President Joe Biden het aangekondig dat sy ­regering hulp deur USAid en Power­Africa vir die ontwikkeling van die projek gaan verskaf. Ons ontvang ook hulp van die Wêreldbank en die Afrika-ontwikkelingsbank,” sê Shiimi.

In terme van die Kanadese oliesoektog in die sensitiewe Kavango-delta, sê die minister dat boorwerk nie te na aan die delta self plaasvind nie, en dat die regering sal toesien die omgewing en die ekostelsel word bewaar.

Op 'n stelling van Quest dat dit deesdae eintlik afgekeur word om vir olie te boor, het Shiimi geantwoord: “Ons het beide wêrelde.”

“Die ou wêreld ondersteun steeds 'n merkwaardige nywerheid en sal miskien vir die volgende 20 jaar olie benodig. Ons kyk ook na die toekoms om Namibië en die wêreld te help om koolstofneutraal te word,” sê hy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer