Shalulile goud werd

Sokker
Peter Shalulile, een van die Brave Warriors se voorste staatmakers, is tans met 'n hewige prys in die mark.

Shalulile, wat vir Highlands Park sokkerklub in Suid-Afrika speel, kan glo vir N$30 miljoen by sy huidige klub gekoop word.

Brad Kaftel, medevoorsitter van Highlands, sê die klub sal aanbiedinge oorweeg wat vir die Nami­biër se dienste gemaak word.

Highlands Park, ook bekend as die Leeus van die Noorde, se direkteur, Larry Brokstone, sê Shalulile is ten minste N$30 miljoen vir sy klub werd.

Hoewel Shalulile een van die Leeus se sterspelers is, sal Kaftel die Namibiër ondersteun indien 'n oorsese klub hom wil koop.

Kaftel sê: “Daar is nog niks konkreet op die tafel nie, maar as die regte kontrak ons te beurt val, sal ons dit oorweeg. Ons sal Peter aanmoedig om aan te beweeg indien 'n oorsese klub hom 'n geleentheid aanbied. 'n Internasionale klub kan nou sy beste skuif wees.

“Hy is al 'n hele klompie jare by Highlands Park en is baie spesiaal vir ons. Hy is 'n topdoelvraat asook 'n wonderlike man en speler.

“Maar die plaaslike seisoen geniet nou voorkeur en ons moet dit afhandel. Daar is ses wedstryde oor en as dit verby is, kan ons weer na ons opsies kyk. Ons sal nie een van die Leeus se spelers verhoed om na 'n ander klub te gaan nie. Dit is die regte ding om te doen.

“Ons is lief vir Peter, hy is vir ons soos 'n aangenome seun. Behalwe dat hy 'n fantastiese mens is, is hy hardwerkend. Hy werk voortdurend om sy spel te verbeter en gee deurgaans honderd persent op die veld.”

– News24

Kommentaar

Republikein 2025-10-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer