Sewentienjarige verkrag 11-jarige seun

Tanja Bause
'n Sewentienjarige seun het Sater­dag 'n 11-jarige seun in die Otjovihe-nedersetting naby Opuwo verkrag, volgens die polisie se misdaadverslag.

Die verdagte het na bewering die slagoffer in die veld gekry terwyl hy besig was om bokke op te pas. Die verdagte is in hegtenis geneem en sal in die sorg van sy ouers vrygelaat word. Die polisieondersoek duur voort.

Tussen April en Junie het 'n 20-ja­rige man 'n 13-jarige meisie her­haaldelik verkrag. Dit het in die Sikumba-nedersetting naby Nku­renkuru in die Kavango-Wesstreek gebeur. Die 20-jarige beeswagter is nog nie in hegtenis geneem nie.

Saterdag tussen 12:00 en 14:00 is 'n 28-jarige vrou glo deur haar kêrel se vriend verkrag terwyl die kêrel video's van die verkragting gemaak het. Die voorval het in Kuisebmond op Walvisbaai plaasgevind. Die mans van onderskeidelik 31 en 25 jaar oud is in hegtenis geneem.



MOORD

Me. Helaria Nampala (33) is Vrydag om 15:30 in die Uupopo-informele nedersetting op ­Ondangwa ­doodgesteek. Sy en 'n 26-jarige vrou was glo in 'n bakleiery betrokke toe die vrou haar met 'n mes gesteek het. Die verdagte is in hegtenis geneem.

Mnr. Matias Shangheta (24) is Saterdag omstreeks 18:00 by die Okaonde- informele nedersetting op Onayena met 'n skerp voorwerp in die bors gesteek. Hy is op die toneel dood. Die verdagte het op die vlug geslaan toe die polisie hom in hegtenis wou neem. Die ­polisieondersoek duur voort.



AANRANDING

Vier vroue van onderskeidelik 19, 22, 29 en 46 is in die Kaguni-nedersetting in die Kavango-Wesstreek in hegtenis geneem. Hulle het glo 'n polisiebeampte verhinder om 'n verdagte in 'n veediefstalsaak in hegtenis te neem. Hulle het na bewering gesê die verdagte is 'n familielid en hulle sal nie toelaat dat hy in hegtenis geneem word nie.

Die pa van die verdagte het die ­polisiebeampte twee keer met 'n stok oor die kop geslaan. Die man het op die vlug geslaan.



VEEDIEFSTAL

'n Verdagte het Vrydag vier beeste in die Kaguni-nedersetting in die Kavango-Wesstreek gesteel. Hy het hulle in 'n kraal gesit met die doel om hulle te verkoop. Die beeste ter waarde van N$34 000 is teruggevind. Die man het op die vlug geslaan en die polisie se ondersoek duur voort.

In dieselfde nedersetting is 'n os Vrydag omstreeks 15:00 gesteel. Die os ter waarde van N$8 000 is teruggevind. Die man het op die vlug geslaan en die polisieondersoek duur voort.



STRAFBARE MANSLAG

Mnr. Ananias Kanisius (35) het Vrydag om 16:19 probeer om op 'n vragmotor van Rent-a-Drum by die Walvisbaai-asgate te klim. Die vragmotor was by die asgate om vullis af te laai. Die bestuurder was nie bewus van Kanisius wat probeer het om op die vragmotor te klim nie. Hy het van die vragmotor afgeval en die vragmotor het oor hom gery. Hy is na die staatshospitaal op Walvisbaai geneem, maar het later aan sy ­beserings beswyk.



OMKOPERY

'n Angolese vrou is Vrydag om 19:15 in hegtenis geneem nadat sy probeer het om 'n polisiebeampte met N$200 om te koop. Die voorval het in die Swavek- informele neder­setting by die Ruacana-grenspos plaasgevind.

Kommentaar

Republikein 2025-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer