Seun van oud-IAAF-hoof vaar uit teen sy vonnis
Seun van oud-IAAF-hoof vaar uit teen sy vonnis

Seun van oud-IAAF-hoof vaar uit teen sy vonnis

Atletiek
Papa Massata Diack tart die Franse owerhede en sê as hulle hom soek om sy vonnis van vyf jaar in Frankryk uit te dien, sal hulle ’n taakmag na Senegal moet stuur om hom in hegtenis te neem.
Papa Massata, seun van Lamine Diack, voormalige president van Wêreldatletiek (voorheen die IAAF), is aan korrupsie skuldig bevind.
Sy 87-jarige pa is op aanklag van korrupsie vier jaar tronkstraf opgelê, waarvan twee jaar opgeskort is.
Papa Massata is in absentia gevonnis omdat hy geweier het om Senegal te verlaat en in Frankryk verhoor te word.
Interpol, die internasionale polisie-agentskap, het in 2016 ’n internasionale kennisgewing uitgereik waarvolgens Papa Massata op sy lys van gesoekte persone is.
Hy is in Senegal gesetel om die internasionale owerhede te ontduik.
“Hulle kan ’n spesiale taakmag stuur om my te kom haal,” het hy dié week luidens ’n BBC-berig gesê. Hy hou vol dat hy onskuldig is.
Sy pa is skuldig bevind aan korrupsie skuldig met betrekking tot die Russiese opkikkerskandaal, en tot ’n verdere boete van €500 000 gevonnis.
Hy is daaraan skuldig bevind dat hy minstens €3,45 miljoen se omkoopgeld ontvang het sodat Russiese atlete wat positief toets vir die opkikkermiddel, nie aan die pen ry nie en hul deelname aan die sport kan voortsit.
Die 87-jarige Lamine was van 1999 tot 2015 in beheer van die IAAF voordat Sebastian Coe oorgeneem het.
Papa Massata, wat in dié tyd die bemarkingshoof van die IAAF was, is ook ’n boete van $1,2 miljoen opgelê.
Franse ondersoekers sê Papa Massata is een van die baasbreine agter die korrupsieskema, wat onder meer die toekenning van die Olimpiese Spele aan Rio de Janeiro in 2016 en die Tokio-Spele (wat uitgestel is na volgende jaar) ingesluit het.
Papa Massata het in 2017 die beskuldigings teen hom as “die grootste leuen in die geskiedenis van sport” bestempel.
Ofskoon hy glad nie by die hofsaak betrokke wou wees nie, het sy prokureurs in Senegal gesê hy het nie ’n regverdige verhoor gekry nie en sal dus appelleer.
“Dit is nie vir my nodig om atlete af te pers nie. Ek het genoeg geld om gemaklik te lewe,” het hy vanuit Senegal se hoofstad, Dakar, gesê.
“Wat Frankryk, die land van menseregte, gedoen het, is afskuwelik. Wat ons in Parys gesien het, was ’n klap in die gesig van geregtigheid, ’n grap.”
Papa Massata het selfs die rassekaart gespeel en gesê hy “is nie bang om te sê daar is rassisme in dié storie nie”.
Die Japanse publikasie Kyodo News berig dat ’n konsultasiefirma wat vir die Tokio-Spele se reëlingskomitee gewerk het, Papa Massata $370 000 betaal het.
Dié betaling is glo gemaak in die tydperk toe die Spele aan Tokio toegeken is en het bespiegelinge weer laat opvlam dat daar stemkopery tydens die bodproses was.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer