Seun van Aussenkehr smag na liefde
'n Sentrum vir weerlose kinders kry swaar weens die impak van die Covid-19-pandemie.
Tanja Bause – “Alfred soek net iemand wat hom soos 'n kind sal liefhê. By die sentrum word hy versorg en hy kort niks, maar mense van 'n sentrum wat baie kinders versorg se omgee is anders as 'n eie mamma of pappa wat jou lief het,” sê Wano Katjiri van Aussenkehr van sy beste vriend, Alfred Otto (16).
Die Aussenkehr Child Care Centre (ACCC), aan die suidgrens van Namibië, is waar beide Wano en Alfred grootgeword het.
Die ACCC is voor 2004 begin toe 'n paar individue die behoefte gesien het vir 'n plek waar kwesbare en weeskinders kos en versorging kan ontvang.
Pastoor Matias Andreas en sy vrou, Fenny, was van die begin af by die sentrum betrokke.
In 2005 het Antonie van Heerden betrokke geraak. Van Heerden se pos is vyf jaar gelede beëindig en hy moes terug na Suid-Afrika toe trek. Hy het vir 'n tydjie finansieel tot die sentrum bygedra, maar dit was moeilik om dit vanaf Suid-Afrika te doen.
“Ek onthou een middag was ek ná werk vanaf die winkel op pad en het die sentrum besoek. Al wat daar vir die kinders vir aandete was, was 'n paar gekookte patats. Daardie aand is die idee vir 'n meer georganiseerde sentrum gebore. Ons het 'n Artikel 21-maatskappy gestig; formeel met 'n direksie en al. Met tyd en deur skenkings, is slaapkwartiere, 'n kombuis en ablusiegeriewe opgerig,” vertel Van Heerden.
Die sentrum bied slaapplek vir ses meisies en ses seuns en ander kwesbare kinders ontvang etes.
“Ons het onderneem om laerskoolkinders met goeie akademiese punte na beter skole op Keetmanshoop te stuur. Vandag spog van daardie kinders met grade en diplomas.”
SENTRUM ONDER DRUK
Pastoor Andreas en Fenny is steeds by die sentrum betrokke en volgens hom het skenkings vir die sentrum amper opgedroog – veral né verlede jaar se Covid-19-pandemie.
“Met dié dat die grense toegemaak het, kon van ons skenkings ook nie meer inkom nie. Die skole het in Maart toegemaak en die kinders het huis toe of sentrum toe gekom, wat groot druk op ons geplaas het.
“Wanneer die kinders in die koshuise en op skool is, het ons nie baie kinders om voor kos te gee nie. Maar met dié dat almal by die huis was, het baie hier kom eet en ons hulpbronne is uitgeput,” het Andreas gesê.
Hy het families en voogde gevra om die kinders tydens die inperkings by die huis te hou om die druk op die sentrum te verlig.
“Alfred het geen familie of voog nie; dus het hy by die sentrum agtergebly. Alfred is hier by die sentrum afgelaai toe hy 'n klein seuntjie was,” het Andreas gesê.
Van Heerden sê: “Ek onthou die middag baie goed. Ek was by die sentrum en het by die huismoeder, Foibe, en pastoor gekuier. Alfred se ma het opgedaag en gevra of hy nie 'n paar dae daar kan oorslaap nie, want sy moet weens omstandighede Suid-Afrika toe gaan.
“Maar sy het nie teruggekeer nie en Alfred het 'n permanente inwoner van die sentrum geword. Sy het wel soms nog kontak met hom en het al 'n keer of so vir hom kom kuier, maar dan gaan sy weer Suid-Afrika toe en los hom agter.”
Wano is wettig deur Van Heerden aangeneem.
“Wano bly al vandat hy 14 is by my en hy het op sy 18de verjaardag uiteindelik sy nuwe geboortesertifikaat ontvang wat my as sy pa aandui. Vir 'n Suid-Afrikaner is dit baie na aan onmoontlik om 'n Namibiese kind aan te neem. Tot nou toe erken Suid-Afrika nog nie 'n Namibiese aanneming nie.
“Aangesien my betrokkenheid by Alfred veel minder was, sou 'n formele aanneming heel moontlik nie kan plaasvind nie. Ek was onlangs telefonies met sy ma in verbinding en sy was baie geneë dat indien ons vir Alfred 'n ander heenkome kan vind, sy daarvoor toestemming sou gee,” het Van Heerden gesê.
PLIGSGETROUE SEUN
Wano praat met lof van sy vriend en sê hy is baie volwasse en verantwoordelik vir sy ouderdom.
“Ander kinders wat deur dieselfde omstandighede gegaan het, sal in verkeerde kringe beweeg en hulself met verkeerde dinge ophou, maar nie Alfred nie. Hy is die mees positiewe kind wat ek nog ontmoet het.
“ 'n Gewone dag in Alfred se lewe bestaan om vroeg op te staan en vetkoek te bak. Dan verkoop hy dit by die tannie se stalletjie en hy help ook daar uit. Hy doen ook die winkel se inkopies vir haar. In die namiddag gaan hy terug sentrum toe en begin om kos vir homself en die ander kinders te kook. Hy is 'n baie goeie kok en maak heerlike kos. Ná ete berei hy die deeg vir die volgende dag se vetkoek voor.”
Volgens Wano is daar nog ander kinders wat die tannie uithelp en met die koskook help, maar Alfred is die hoof.
“Alfred is ook 'n baie goeie sokkerspeler en as hy die regte ondersteuning kry, sal hy in die sport uitblink. Alfred wil net gelukkig wees. Hy wil sokker speel, drukkies kry en iemand hê wat vir hom sê: 'Ek is lief vir jou'.”
Alfred is in graad 10 by die Junior Sekondêre Skool Lordsville op Karasburg.
Van Heerden sê: “Alfred het 'n ondersteuningspan nodig wat sy hande by 'n goeie skool en koshuis kan vat. 'n Span wat begrip het vir skolastiese agterstande, wat 'n pa en ma kan wees, wat sy talente kan koester en geleenthede vir hom kan bied.”
Alfred sê: “Ek soek net 'n mamma of pappa wat lief vir my is.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie