Sesde vermeende stroper kry ook borg
Sesde vermeende stroper kry ook borg

Sesde vermeende stroper kry ook borg

Sowat 13 renosters is sedert Maart verlede jaar op dieselfde lodge gestroop.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die sesde beskuldigde in ’n renosterstroopsaak is gister borgtog van N$6 000 in die landdroshof op Outjo toegestaan.

Mnr. Rukeeveni Nguronda (34) en sy vyf medebeskuldigdes, mnre. Simon Mbanzi (37), Immanuel Haingura (42), Christopher Kanonga (37), Joseph Kativa Ndumba (44) en Abel Dumeni (28), word daarvan beskuldig dat hulle op 27 Mei ’n swartrenosterbul by ’n luukse lodge suidwes van die Etosha Nasionale Park gestroop het.

Sowat 13 renosters is sedert Maart 2018 op dié lodge gestroop.

Die vyf medebeskuldigdes is op 26 Junie reeds op borgtog van N$10 000 elk vrygelaat, ondanks die feit dat die Outjo-gemeenskap met plakkate en drie petisies hierteen betoog het.

Die beskuldigdes is op 29 Mei naby Rundu in hegtenis geneem.

Nguronda is eers op 21 Junie in hegtenis geneem en het op 24 Junie vir die eerste keer in die hof verskyn.

Staatsaanklaer Adjah Nepembe het borgtog aan Nguronda nie teengestaan nie. Nguronda het ook aangedui hy wil om regshulp aansoek doen.

Die ander beskuldigdes word deur twee private regslui, mnr. Trevor Brockerhoff en me. Tjitja Harases, verteenwoordig.

Landdros Immanuel Udjombala was op die bank.

Die saak is tot 30 September vir verdere ondersoek uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer