Ses van die domstes

18 October 2019 | Rubrieke
Wat het die oumense dit nou weer genoem?

Siepsop en braaiboud. Ses van die bestes. ’n Goeie loesing. Wat ook al.

Toe ek op skool was, het onderwysers selfs name gehad vir die instrumente waarmee ons gemoer is: Jan Brand, Salliewerie, Klaargepraat en so aan.

Baie van ons kan gelukkig lag as ons terugdink aan die slae wat ons op skool gekry het.

Baie van ons kan kleurvolle staaltjies uit ons kinderdae vertel van die hardste pak wat ons ooit gekry het, of die lekkerste, of die seerste, of van hoe ons boeke in ons broeke gedruk het of hoe ons ses onnas bo-oor mekaar aangetrek het om die houe sagter te maak, hoe ons rondgespring het, hoe ons ná die tyd nie kon sit nie, en hoe ons by die huis sommer nóg pak gekry het as ons ouers eers hoor ons het by die skool pak gekry.

Maar vandag is lyfstraf onwettig. In Suid-Afrika mag kinders nie by die skool óf die huis pak kry nie, en in Namibië verbied die onderwyswet lyfstraf in staat- en privaat skole.

Die land is aan die praat en mense raak hoogs emosioneel oor die kwessie. Ek ook.

So twee Vrydae gelede het ’n onderwyser by ’n skool in Khomasdal glo ’n 10-jarige seun met ’n lat in die gesig geslaan. Helfte van skool se onderwysers was dié dag afwesig en die kinders het glo handuit geruk, soos wat die muis maar doen as die kat weg is.

Die betrokke kind is toe nie net geslaan nie, maar toe hy huil, is hy glo nog vieslike name ook genoem.

Afgesien van die feit dat die kind aangerand is en hy van sy waardigheid beroof is, is iets anders omtrent hierdie voorval vir my erg skokkend:

Die kind se ma het glo aan die koerant gesê sy is nie teen lyfstraf gekant nie, solank dit op die boude of hande is. Wat?! Die skending van sekere liggaamsdele is dus oukei, maar ander nie?

Die ergste van als is – dís presies hoe baie Namibiese en Suid-Afrikaanse ouers voel – sogenaamde intelligente, opgevoede mense – soms selfs mense met grade.

Baie ouers se verweer is “dit het vir my gewerk” of “maar dis hoe ons grootgeword het”, “wie nie hoor nie, moet voel”, of “die Bybel sê dis oukei”.

Oor die godsdiensverskoning sê prof. Shanaaz Mathews, direkteur van die Universiteit van Kaapstad se kinderinstituut, aan Netwerk24: “Die Bybel is baie jare gelede geskryf en ons moet anders begin dink oor wat dit in ons hedendaagse konteks beteken.”

In 2016 het Suid-Afrika se Menseregekommissie bevind die kerk se bevordering van lyfstraf in die huis is onaanvaarbaar.

Die ouer garde kan dalk sê hulle “het nie van beter geweet nie”, maar vandag is daar genoeg studies wat wys daar’s baie goeie redes waarom lyfstraf onwettig is.

Hallo julle, onwettig.

Enigeen wat kan lees, het eenvoudig nie meer ’n verskoning nie.

Jy kan dalk dink jou kind is oukei met lyfstraf, selfs jou kind kan dink hy is oukei daarmee, maar julle is dalk al twee verkeerd.

Mathews het vir haar doktorsgraad onder meer navorsing gedoen oor mans wat hul lewensmaats vermoor het, berig Netwerk24.

Die meeste van dié mans het lyfstraf as kinders gekry, sê sy.

“Selfs sagter vorms van tugtiging kan kinders laat voel of hulle geen beheer het oor wat met hulle gebeur nie. Jy weet nie of dit straf of mishandeling is nie,” sê sy.

Nog ’n mylpaal-studie waarvan sy deel was, het bevind kinders wat by die huis geweld ervaar, word aggressief.

Mathews sê baie mense sê hulle is as kinders geslaan, en is heeltemal “oukei”, maar kyk mens na die samelewing is dit baie duidelik groot dele daarvan is nié oukei nie.

Die groot vraag wat ouers en onderwysers vra, is: “Wat moet ons dan doen om die kinders in toom te hou?”

Maar die professor sê dit gaan nie oor beheer nie – dit gaan daaroor om beter verhoudings tussen grootmense en kinders te bou.

En daar’s tog skeppende maniere om te dissiplineer, is daar nie? Om ’n kind sekere voorregte te ontneem, soos TV, Netflix, speletjies, selfone en sosiale geleenthede, kan dalk baie meer effektief as lyfstraf wees.

Baie skole het ook puntestelsels, waarvolgens kinders vir swak gedrag punte ophoop en uiteindelik eenvoudig geskors word indien hulle ’n sekere getal oortredings begaan het. Werk saam, of gaan.

Dis tog hoe die regte lewe ook werk – indien jy oortredings by jou werk begaan, gaan niemand vir jou sê “buk” nie – jy kry waarskuwings, dissiplinêre verhore en uiteintlik verloor jy eenvoudig jou werk as jy nie by die reëls hou nie. Geen geweld.

My pleidooi is: Kan ons nie maar begin saamwerk as ouers en onderwysers om skeppende, opbouende strawwe uit te dink nie?

Want face dit, maats, daai ses van die bestes is eintlik maar ses van die domstes – veral in ’n land waar ons elke week oor nóg geslagsgeweld in hierdie einste koerant moet lees.

Soortgelyk

 

AgriBusDev-baas geskors

1st of June 18:23 | Regering

Mnr. Petrus Uugwanga, die landbousake-ontwikkelingsagentskap (AgriBusDev) se besturende direkteur, is met onmiddelike effek geskors. Die voorsitter van die AgriBusDev-raad, me. Sophia Kasheeta, het pas ‘n...

Twee 'renosterstropers' verskyn in Gobabis-hof

1 uur gelede | Howe

Twee vermeende renosterstropers het vandag in die landdroshof op Gobabis verskyn.Mnre. Alberto Mbwale en Joseph Matheus het op klagte van die onwettige jag van spesiaal...

Pastoor Babi steeds agter tralies

5 ure gelede | Howe

Pastoor Jackson Babi (30) van die House of Joy Ministries en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni (25), bly steeds agter tralies.Landdros Linus Samunzela het vanoggend...

25ste Covid-19-geval bevestig

7 ure gelede | Gesondheid

'n Vroulike gesondheidswerker (32) is Namibië se jongste Covid-19-geval. Dit bring die aantal bevestigde Covid-19-gevalle in Namibië op 25 te staan. Volgens die minister van...

Hof hoor president is 'mislei' oor arbeidsregulasies

17 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Pres. Hage Geingob is “verkeerd geadviseer” met die opstel van die gewraakte arbeidsregulasies waarvan die grondwetlikheid Vrydag in die hoërhof deur Namibiese...

Namibiërs in haglike omstandighede onder SA-kwarantyn

17 ure gelede | Gesondheid

Twee vroue van Windhoek en die een se 16-jarige dogter meen die vervalle staatshospitaal by Nababeep naby Springbok in die Noord-Kaap waar hulle in kwarantyn...

'Profeet' Babi se borgaansoek vandag

17 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – Die bekende, charismatiese en selferkende profeet van die House of Joy Ministries, pastoor Jackson Babi (30), en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni,...

Twee bemanningslede positief vir Covid-19

17 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht & Leandrea Louw – Walvisbaai huisves tans drie aktiewe gevalle van Covid-19 ná ‘n 51-jarige man Saterdag positief vir die virussiekte getoets het....

Fishrot-manne skarrel vir borgtog

17 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig – Die Windhoek-landdroshof het Vrydag met verskeie Fishrot-sake gewemel, met borgtogaansoeke wat met aansoeke vir die verlenging van tyd vir verdere ondersoek, meegeding...