Ses naellopers na o.20 wêreldkampioenskap

Atletiek
NAMPA
Atletiek Namibië het die name van ses atlete bekend gemaak wat die land by Wêreldatletiek se o.20-wêreldkampioenskap sal verteenwoordig (17 tot 22 Augustus 2021 in Nairobi, Kenia).
Die uitgesoekte vyf vroue- en een mansatleet sal in die 100 en 200 meter meeding, asook die 4x100 aflos vir vroue.
By die nuuskonferensie het Atletiek Namibië se president, mnr. Erwin Naimhwaka, gesê die o.20-groepie se deelname is moontlik gemaak met die finansiële steun van FNB Namibia en die Padfondsadministrasie (RFA).
“Dit is net deur sulke ondersteuning dat ons in staat is om geleenthede vir ons beste atlete te skep wat deur kwalifisering die reg verwerf het om aan die kampioenskap deel te neem,” het hy gesê.
Die spannetjie na dié tweejaarlikse wêreldkampioenskap mag klein wees, maar Naimhwaka het vertroue dat hulle baie kompeterend kan wees.
“Ons atlete se vertoning in Nairobi sal ons in staat stel om te evalueer hoe ver ons op die pad na die 2024 Olimpiese Spele gevorder is.
“Dit is opwindend dat ons vir die eerste keer in die geskiedenis op hierdie vlak deur die jong vroue-aflosspan verteenwoordig word. Ons wil ons 4x100 aflosspan ontwikkel sodat hulle gereed kan wees om vir die 2024 Olimpiese Spele in Parys te kwalifiseer.”
Die atletiekbaas het die afrigters, klubs en ouers bedank vir die ondersteuning en opofferinge wat die atlete in staat gestel het om die Namibiese vlag in die vreemde te laat wapper.
Die uitverkose atlete:
Beatrice Masilingi – 100, 200, 4x100 aflos
Christine Mboma – 200, 4x100 aflos
Elvis Gaseb – 100
Ndawana Haitembu, Carien Oosthuizen en Nandi Vass is ook lede van die 4x100 aflosspan.
Die spanbeamptes is Meriam Minin (spanleier), Henk Botha (afrigter) en Nomin Lucas (Covid-19 skakelbeampte).
FNB Namibia het met ’n borgskap van N$150 000 vorendag gekom, terwyl die Padfondadministrasie die nasionale span met N$70 000 ondersteun.
Die span vertrek op 14 Augustus na Nairobi.
– Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer