Ses mans vas oor ‘hoogverraad’

Regering waarsku opnuut

10 July 2018 | Howe
Denver Kisting – Die nasionale polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, wou nie gister uitwei oor wat presies tot die inhegtenisneming van ses vermeende afstigters gelei het nie.

Adj.komm. Edwin Kanguatjivi, polisiewoordvoerder, het gister gesê dié ses is Sondag buite Katima Mulilo aangekeer.

Al wat Ndeitunga gistermiddag wou sê, was: “Wat ek kan bevestig, is die inhegtenisnemings. Dit is ’n baie ernstige kwessie. Dit druis in teen die gees van die Grondwet.”

Op ’n vraag oor of die mans ten tye van hul inhegtenisneming besig was om te vergader oor hul beweerde planne, het Ndeitunga gesê: “(Dit is mense) wat hulle op die afstigting van Caprivi beroep.”

Intussen het die prokureur-generaal, dr. Albert Kawana, gister opnuut gesê vermeende afstigters is vyande van Namibië.

Dit gaan sy verstand te bowe dat mense ’n gedeelte van ’n soewereine land wil afstig, terwyl hulle die opsie het om hul eie politieke party te stig. “Wie ookal hierdie nasie wil verdeel, is ’n vyand van die Namibiese nasie. As jy die vrede versteur, is jy ook ’n vyand,” het hy by navraag gesê.

Die Grondwet is duidelik oor die grense van die land, sê Kawana. Trouens, sê hy, die beleërde mnr. Mishake Muyongo, wat tydens 1999 ’n afstigoperasie in die Zambezisstreek gelei het, het sélf artikel 1 van die Grondwet geskryf wat die grense van die land duidelik uitstip.

Muyongo is een van die Grondwet-skrywers.

Oor ’n nuusverklaring van die Caprivi Concerned Group (CCG), wat volgens hulle sedert Augustus verlede jaar stof vergader in Kawana se kantoor, sê hy: “Die posisie van die regering oor die kwessie is baie duidelik en ek hoef nie uit te brei nie: Die Zambezistreek is ’n integrale deel van Namibië. Ek weet nie watter gedeelte van Namibië is Caprivi nie.”

Namibiërs mág kragtens die Grondwet hul menings lug, maar die opperwet is ook duidelik oor hóé daardie menings uitgedruk mag word, waarsku Kawana.

Oor die regering wat glo nog nie aan hul versoek voldoen het om ’n vergadering te belê nie, sê die CCG: “Dít is die gesindheid wat mense kan dwing om geweld te gebruik om gehoor te word.”

Kanguatjivi het gister gesê die ses mans verskyn na verwagting vandag in die Katima Mulilo-landdroshof.

Hulle is Sondag aangekeer en staar klagte van sameswering om hoogverraad te pleeg, aanhitsing tot openbare geweld en ’n oortreding van die Grondwet in die gesig.

Hiernaas het die mans, wat tussen 32 en 46 jaar oud is, glo ook die polisie verhinder om hulle werk te doen.

Die presidensiële woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, het gistermiddag gesê hulle sal ook oor die kwessie beraadslaag.

Volgens Kanguatjivi is die ses mans omstreeks 09:30 eergister by die Liselo-nedersetting buite Katima Mulilo in hegtenis geneem.

Nampa het vroeër vanjaar tydens die president van Botswana, mnr. Mogweetsi Masisi, se maagdebesoek aan Namibië berig dat hy gesê het sy land beplan om Namibiese vlugtelinge wat by die Dukwi-vlugtelingkamp gehuisves word, huis toe te stuur.

Dié vlugtelinge word verbind met ’n poging tydens 1999 om die destydse Caprivistreek af te stig van die res van die land.

Luidens die Nampa-berig het Masisi sy Namibiese eweknie, dr. Hage Geingob, ingelig hulle beskou nie meer hierdie mense as vlugtelinge nie, maar as onwettige immigrante.

Masisi het voorts gesê sy regering sal voortgaan om op te tree teen onegte vlugtelinge wat – teenstrydig met hul vlugtelingstatus – by politieke bedrywighede in Botswana betrokke raak.

Volgens dié berig het pres. Geingob gesê die rede hoekom sommige mense nie na Namibië wil terugkeer nie, is omdat hulle steeds nie afstand gedoen het van die plan om die hedendaagse Zambezistreek af te stig nie.

Soortgelyk

 

Rehoboth-tiener se saak tot Desember uitgestel

3 ure gelede | Howe

‘n Tiener wat in verband met die moord en verkragting van die 57-jarige me. Sarah Jagger aangekla is, het Dinsdag sy vierde verskyning in die...

'Menslike fout is die oorsaak van ongeluk'

19 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner op Swakopmund - 'n Meganiese fout kan nie as rede gegee word vir die gru-ongeluk op 29 Desember 2014 tussen Hentiesbaai en Swakopmund...

Kahimise se turf sit dalk

19 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die Windhoekse stadsraad (CoW) is van mening die klagtes teen sy uitvoerende hoof, mnr. Robert Kahimise, is só ernstig dat hy afgedank...

Wêreldkinderdag gevier

19 ure gelede | Gebeure

Elke jaar op 20 November word Wêreldkinderdag gevier om die aanneming van die Konvensie oor die Regte van die Kind te herdenk.Vanjaar streef Namibië se...

Icao-span sê oor oudit

19 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - Die span van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie (Icao) wat in die land is vir ’n veiligheidsoudit van dié waghondliggaam, het gister verduidelik wat...

Weer vir 20 November 2018

19 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Hittegolftoestande sal in die Noorde voortduur.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees...

Twee kinders sterf in brand

19 ure gelede |

Twee kinders, Katrina Immanuel (9) en haar agtjarige broer, Thomas Immanuel, het onherkenbaar verkool toe hul sinkhuis vroeg Sondagoggend in die Omdel-nedersetting by Hentiesbaai afgebrand...

Hittegolf wyk nóg nie

19 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Die huidige hittegolf sal na verwagting vir die res van die week sy greep op Namibië en veral die Noorde volhou, terwyl...

Goue stem van Lüderitz

19 ure gelede | Kuns en vermaak

Tanja Bause – Christo Biewenga of ChrisB van Lüderitz beplan om vroeg volgende jaar sy derde CD vry te stel. Christo is in ’n musikale...