Ses jaar in tronk oor 'versoeking'
Ses jaar in tronk oor 'versoeking'

Ses jaar in tronk oor 'versoeking'

Indien sekswerk gedekriminaliseer word, sal slagoffers van misbruik veel eerder na vore kom, sê Amerikaanse aktiviste.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



'n Voormalige werknemer van Standard Bank Namibia is Woensdag vir N$1,6 miljoen se bedrog gevonnis.

Mark Wayne van Wyk (29) is deur regter Naomi Shivute in die hoërhof in Windhoek tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.

Regter Shivute het beveel dat twee van die agt jaar vir 'n tydperk van vyf jaar opgeskort word, mits Van Wyk homself nie weer binne hierdie tydperk aan bedrog skuldig maak nie. Hy sal dus ses jaar agter tralies deurbring. Van Wyk het in Januarie vanjaar skuldig gepleit op 288 klagte van bedrog wat hy tussen 19 Januarie 2013 tot einde Augustus 2015 by Standard Bank Namibia gepleeg het deur geld vanuit 'n interne bankrekening van die bank in sy eie rekeninge asook dié van sy vriende, familielede en kennisse te betaal.

Nadat die geld in die rekeninge oorgedra is, het hy die rekeninghouers versoek om die oorgeplaaste geld te onttrek en aan hom te oorhandig, of hy het die rekeninghouers se debietkaarte gebruik om onttrekkings by ATM's te maak of self aankope daarop te doen, het Van Wyk in 'n pleit­verduideliking wat by die hof ingehandig is, gesê.



pensioengeld

Die bank het só N$1 604 217,60 verloor. Van Wyk het ook nie beswaar aangeteken dat sy pensioengeld van N$135 413,00 aangewend word om te kompenseer vir die bank se verliese nie. In haar uitspraak het Shivute genoem dat Van Wyk die geld wat hy gesteel het aangewend het om vir sy moeder, grootouers, broer en broerskind te sorg. Hy het ook sy moeder se kankerbehandeling hiermee gedek.

Hy het egter ook graag sy vriende onthaal en N$60 000 van die geld vir 'n deposito op 'n motor, wat later in 'n ongeluk betrokke was, gebruik.

Volgens getuienis in die hof het Van Wyk begin dobbel in die hoop om 'n lotery te wen sodat hy die bank se geld kan terugbetaal.

Regter Shivute het in haar uitspraak gesê die feit dat Van Wyk skuldig gepleit het en opregte berou oor sy dade getoon het, tel in sy guns.

Sy het verder gesê Van Wyk is 'n eerste oortreder wat skuldig gepleit het op al die klagte teen hom en sodoende die staat die moeite van 'n lang verhoor en die roep van getuies gespaar het.

“Nietemin kan die hof nie die erns van die misdaad en die groot bedrag betrokke uit die oog verloor nie,” het Shivute gesê.

Die feit dat Van Wyk in 'n vertrouens­posisie was en dit misbruik het, tel teen hom, het die regter in haar ­uitspraak gesê.

“Hy het die vermetelheid gehad om aan die hof te vertel dat hy in die ­versoeking gelei was om van sy werkgewer te steel as gevolg van sy ­werkgewer se swak sekuriteitstelsel,” het Shivute gesê.

“Hierdie swak verskoning is onaanvaarbaar en 'n belediging ná die finansiële skade en skade wat hy reeds aan sy voormalige werkgewer se reputasie veroorsaak het,” het sy verder gesê.

Volgens hierdie verswarende omstandighede het Shivute ten slotte gesê sy het geen ander opsie as om gevangenisstraf aan Van Wyk op te lê nie. Mnr. Jan Wessels het Van Wyk verteenwoordig en adv. Salomon Kanyemba het namens die staat opgetree.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer