Ses bystandwerkers in SAR doodgeskiet
Ses bystandwerkers in SAR doodgeskiet

Ses bystandwerkers in SAR doodgeskiet

Die Sentraal-Afrikaanse Republiek is nou een van die gevaarlikste lande vir humanitêre werkers.
Estelle de Bruyn
Ongeïdentifiseerde aanvallers het ‘n werknemer van Unicef en vyf ander opvoedkundige werkers in ‘n aanval in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) vermoor, het die Verenigde Nasies se kinderagentskap Woensdag gesê.

Die aanval het Sondag plaasgevind toe die groep na die noordoostelike dorp Markounda in die afgeleë gebied na aan die grens met Tsjad onderweg was. Hulle sou daar onderrig aan plaaslike onderwysers verskaf.

Al die oorledenes was burgers van die SAR, onder wie die Unicef-onderwyskonsultant, twee beamptes van die ministerie van onderwys en drie lede van die plaaslike Unicef-vennootorganisasie.

“Ons veroordeel ten sterkste hierdie sinnelose daad van geweld teen hulpwerkers wat daar was om die lewe van weerlose gemeenskappe te verbeter,” het Unicef se streekverteenwoordiger vir Wes- en Sentraal-Afrika, Marie-Pierre Poirier, in ‘n verklaring gesê.

Unicef het nie gesê wie die aanval uitgevoer het nie, maar milisiegeweld in die SAR het die afgelope jaar skerp toegeneem. Dit is nou een van die gevaarlikste lande vir humanitêre werkers.

Onbekende aanvallers het in Augustus ses vrywilligers van die Rooikruis in die suidooste van die land vermoor, skaars ‘n maand nadat ‘n ander werker deur ‘n ongeïdentifiseerde groep in die dorp Bangassou doodgeskiet is. – Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer