Sergey Lavrov besoek Namibiu00eb
Sergey Lavrov besoek Namibiu00eb

Sergey Lavrov besoek Namibië

Estelle de Bruyn
Die Russiese minister van buitelandse sake, mnr. Sergey Lavrov, het gister vir ‘n driedaagse amptelike besoek in Namibië aangekom.

Volgens ‘n verklaring deur die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking is die doel van Lavrov se besoek om menings oor ‘n wye reeks bilaterale en internasionale kwessies van gemeenskaplike belang te wissel.

Tydens die besoek sal hy onder andere met die adjunk- eerste minister en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, samesprekings voer en ‘n welwillendheidsbesoek aan pres. Hage Geingob bring.

“Namibië en Rusland handhaaf uitstekende betrekkinge wat tot voor onafhanklikwording terugdateer.

“Bilaterale samewerking bestaan deur die Namibies-Russiese interregeringskommissie op handel en ekonomiese samewerking wat in Julie 2006 tot stand gekom het ingevolge die raamwerk van die ooreenkoms wat op 18 Julie 2005 onderteken is," sê Namibië se permanente sekretaris van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Selma Ashipala-Musavyi.

Die kommissie het sedertdien sewe vergaderings gehou waarvan die laaste een op 15 en 16 November verlede jaar in Windhoek gehou is.

Die agtste vergadering sal later vanjaar in Moskou plaasvind.

Deur die kommissie het die twee lande bilaterale instrumente in sektore soos gesondheid, onderwys, verdediging en veiligheid, myne en energie, handel en beleggings, visserye, asook toerisme tot stand gebring.

Volgens die verklaring wil albei lande samewerking uitbrei op die gebiede van myne en energie, justisie, die beskerming van wild en die bestuur van nasionale parke.

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer