Sensasionele triomf vir Eagles!

Krieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Gerhard Erasmus (53 nie uit nie) en sy Namibiese Eagles-span klop Ierland en dring deur tot die SUPER-12-FASE van die T20 Wêreldbeker!
David Wiese (28 nie uit nie van 14 balle) het in Sjarjah die Iere se harte gebreek met twee sesse en ’n vier, wat help verseker het dat Namibië die vereiste 126 bereik met agt paaltjie staande en nege balle oor.
NAMIBIË DRING DEUR TOT DIE SUPER-12 en speel volgende teen Skotland (komende Woensdag), Afghanistan (Sondag 31 Oktober), Pakistan (Dinsdag 2 November), Nieu-Seeland (Vrydag 5 November) en Indië (Maandag 8 November).
DIE EAGLES KWALIFISEER OOK REGSTREEKS VIR DIE 2022 T20 WÊRELDBEKER IN AUSTRALIË!
Die speler van die wedstryd, David Wiese (28* van 14 balle en 2/22), het agterna gesê: “Dis heeltemal oorweldigend. Ek glo nie ek verdien dit nie. Gerhard Erasmus het ’n ware kapteinsbeurt gespeel en is die ware speler van die wedstryd. Ek sal hierdie toekenning aanvaar, maar hierdie is werklik sy oomblik en die res van die span wat soveel harde werk verrig het om nou hier te wees.
“Ek het tevore ’n paar keer in Sjarjah gespeel en weet hoe die kolfblad later begin verweer om my boulwerk ’n bietjie te pas.”
Andrew Balbirnie, Ierland se kaptein een die verloorkant, sê: “Dis ’n baie pynlike uitslag. Ons wou regtig wen. Ons het nie genoeg lopies aangeteken nie. Dit gaan moeilik wees en tyd om hierdie teleurstelling te verwerk. Dit maak seer.
“Ek dink Wiese het briljant gespeel toe die vereiste kolftempo op 8 per boulbeurt was, en Namibië se kaptein het hulle deurgedra. Daar is ’n klompie goeie krieketspelers in Namibië.”
Gerhard Erasmus, die wenkaptein: “Ons is ’n klein landjie en min mense wat krieket speel, maar ons handhaaf ’n gesonde kultuur. Ons kan baie trots wees op wat ons reggekry het.”
(Oor David Wiese se onoorwonne kolfbeurt): “Ek maak staat op my senior spelers om deur te kom wanneer die druk aan is. Vanaand het ons twee dit gedoen. Hopelik kan ons regdeur die toernooi hiermee volhou.”
(Oor die gevoel om tot die Super 12 deur te dring): “Dit het nog nie ingesink nie. Miskien later, of môre, of volgende week, of wanneer ons huis toe gaan.”
Vroeër het Ierland sy twintig boulbeurte op ’n ondergemiddelde 125/8 afgesluit.
Namibië moes dus basies bloot teen ’n lopie per bal kolf om hierdie deurslaggewende wedstryd te wen.
Ierland se lywige aanvangskolwer Paul Stirling (38 van 24 balle, vyf viere, een ses) was aanvanklik ’n doring in die vlees saam met Kevin O’Brien (25 van 24 balle, 2x4), maar Stirling het van Bernard Scholtz se boulwerk ’n vangkans in die buiteveld aan Nicol Loftie-Eaton gebied.
Ná hierdie eerste deurbraak (62/1 ná 7.2 boulbeurte) het Jan Frylinck (3/21 in 4 bb) en David Wiese (2/22 in 4) saam met Picky Ya France (0.11 in 2) uitstekend geboul om Ierland se aanvanklike kolftempo van bykans agt of nege per boulbeurt grootliks onder bedwang te bring.
Die linkerarm snelboulers JJ Smit (1/27 in 4) en Ruben Trumpelmann (0/18 in 3) het ook minder as sewe per boulbeurt afgestaan.

Kommentaar

Republikein 2025-06-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer