Senegal klim in Cosafa-kryt
Senegal klim in Cosafa-kryt

Senegal klim in Cosafa-kryt

Sokker
Die Brave Warriors sal weet teen wie hulle Juliemaand in die Konfederasie van Sokkerverenigings in Suidelike-Afrika (Cosafa) se 2021 bekerkompetisie gaan speel wanneer die trekking vandag in Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) plaasvind.

Dié streekstoernooi hervat van 7 tot 18 Julie in die Vriendelike Stad nadat dit verlede jaar weens corona-inperkings gekanselleer is.

Een genooide span van buite die streek, die gedugte Senegal, sal saam met elf lidlande in drie groepe van vier elk verdeel word.

Die Wes-Afrikane word tans deur Fifa as die 22ste beste sokkerland ter wêreld gereken en op die vasteland is Senegal se Leeus van Teranga nommer een.

Ten spyte dat 'n moratorium tans vir alle kontaksport in die land geld, sê Franco Cosmos, sekretaris-generaal van die Namibiese Sokkervereniging (NFA), Namibië sal aan die elite toernooi deelneem – mits die geldelike kloutjie by die oor gekry word.

“Op die oomblik is ons besig met voorbereiding en dink daaraan om die Brave Warriors vooraf vir 'n oefenkamp in Suid-Afrika byeen te kry,” het Cosmos gesê.

Bobby Samaria, die tussentydse hoofafrigter van die Warriors wie se kontrak met die NFA verstryk het, sal in beheer bly nadat sy kontrak met twee maande verleng is.

“Ons het met Bobby onderhandel en hy het ingestem om die span vir die Cosafa-toernooi te slyp. Hy was die eerste keuse, want dit help nie ons gebruik iemand nuut wat nie die spelers en die span se omstandighede ken nie,” het Cosmos verduidelik.

Die kompetisie sal vanjaar in 'n nuwe formaat gespeel word, naamlik drie groepe met vier spanne elk.

Die topspan in elke groep en die beste tweede geplaaste span sal tot die semifinale deurdring.

In teenstelling met vorige jare sal daar nie in 2021 'n plaatkompetisie wees nie.

Slegs tien lande het tot dusver hul deelname bevestig. Die gasheer Suid-Afrika, die titelhouer Zambië, die sesmalige wenners Zimbabwe word opgeweeg teen Botswana, Comore, eSwatini (voorheen Swaziland), Lesotho, Malawi, Mosambiek en Namibië.

Benewens die spesiaal genooide Senegal moet die twaalde land nog bevestig word.– Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer