Sendelinge uit die selle
Sendelinge uit die selle

Sendelinge uit die selle

Tanja Bause
Tanja Bause - “Ons is nie kwaad nie, ons is hier vir die kinders, die jeug, enkel- en werklose moeders en ons wil graag aangaan om hulle te help. Ons het ’n hart en toewyding vir die kinders en mense van die land.”

Dit was die woorde van mnr. Brian Kinghorn gister nadat hy en sy vrou Pam Maandag uit die polisieselle vrygelaat is.

Die egpaar is Woensdag by hul huis op Brakwater in hegtenis geneem en was tot Maandag in aanhouding. Die Kinghorns is daarvan aangekla dat hulle langer in die land is as waarvoor hul wettige werkpermitte geldig is. Hulle wag egter steeds op 'n antwoord oor 'n appèlsaak rakende hul permanente verblyf. Beide Brian en Pam is deur die hof 'n boete opgelê.

Met die voorlegging van bewyse van hul beplande reis Maandag Kaap toe, het die hof beveel dat die egpaar vrygelaat word.

Die Kinghorns se aansoek om werkpermitte en permanente verblyf het oor die jare misluk, met talle vertragings, weierings, vertraagde reaksie op appèl, sowel as beloftes om hul saak op grond van die meriete van hul werk te heroorweeg.

Die egpaar se paspoorte is Maandag gekonfiskeer, enkele ure voordat hulle na Kaapstad sou vertrek. Hul bewegings is egter tot Windhoek beperk en hulle moet tot einde Januarie op die uitslag van 'n verhoor by die Immigrasie-tribunaal wag.

“Ons is baie bekommerd oor buitelandse skenkers wat teen ons kan draai en ophou om ons projekte te ondersteun. Hulle is baie kwaad en is bekommerd oor ’n regering wat so kan optree teenoor mense wat nog net die belange van hul land se mense op die hart gedra het. Hulle is bekommerd oor wat van hul geld gaan word as dit na Namibië gestuur word en ons is nie daar om dit te bestuur nie. Ons het in die laaste veertien jaar tussen N$18 en N$20 miljoen van die buiteland vir ons projekte gekry,” het Brian gesê.

Die egpaar se werk onder kinders en jongmense word deur fondse en vrywilligers uit Ierland, Nederland, Switserland, Amerika, Suid-Afrika en Namibië moontlik gemaak. Tans is die Kinghorns besig om Namibiërs op te lei om die egpaar se plek in die toekoms vol te staan en hul werk voort te sit.

Die egpaar het in 2003 die liefdadigheidsorganisasie Beautiful Kidz in Katutura begin. Die afgelope 14 jaar bied die sentrum nie net onderrig en maaltye aan die armste van die armste kinders nie, maar word die kinders leer lees, terwyl hulle ook in kuns en spanwerk onderrig word. Beautiful Kidz bied 'n veilige hawe aan dié kinders waar hulle kan leer, ontspan en speel. Ook verseker die egpaar se Anusa-naaldwerkprojek ’n inkomste aan talle werklose vroue in Katutura. In Ovitoto buite Okahandja ondersteun die Kinghorns ook twee kleuterskole wat onderskeidelik 80 en 30 kinders huisves. In Ongwediva ondersteun die egpaar nog ’n kleuterskool met 80 kinders.

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer