Selfondersoek en wedersydse respek
Selfondersoek en wedersydse respek

Selfondersoek en wedersydse respek

Mandy Rittmann
DR. REINHARDT SIEBERHAGEN SKRYF:

Ek voel genoop om ’n stuiwer in die armbeurs te gooi na ek die berig oor ons land se nasiebouprojek op sosiale media raakgesien het, met ’n hele rits kommentare daarby.

Ek sou graag op sommige van die kommentare in die breë wou reageer, maar voor ek dit doen, gaan ek eers ’n kort prentjie skets van my Namibiese belewenis oor die laaste ongeveer 23 jaar.

Ek het oor die jare die voorreg gehad om op gereelde basis met die breë spektrum van ons populasie kontak te hê, insluitend parlementslede, hooggeplaaste amptenare in ons regering, middelvlakbestuurslui en staatsamptenare in die breë. Ek wil graag die volgende sterk beklemtoon: Nie ’n enkele keer wat ek met regeringslui interaksie gehad het, selfs in die parlement, is ek ooit anders as met groot hoflikheid, warmte en verwelkoming ontvang nie, en daar was oor die jare baie sulke kontakte.

Ek het nog altyd die boodskap en die gevoel gekry dat daar ’n warm hand van vriendskap na my as ’n wit burger uitgestrek word. Van my kollegas praat ek nie eers nie. Dit is ’n broederskap met diep wortels van wedersydse respek.

Kort na onafhanklikheid het Theo Ben Gurirab in die VN gesê Namibië gaan die wêreld se laboratorium word vir die bou van goeie transkulturele samesyn. Dr. Moses Tjitendero het meer as een keer vir my gesê die sleutel is wedersydse toleransie vir mekaar.

Ek glo en is dus oortuig dat ons regering erns het daarmee dat Namibië ’n plek is vir al sy mense. Dr. Hage Geingob het dit spesifiek al by meer as een geleentheid gesê.

Tot watter mate ons wit gemeenskap sedert onafhanklikheid ’n warm hand uitgesteek het na die regering se kant is ’n vraag wat ons in alle erns onsself moet afvra.

Ons regering is by verre nie perfek nie en die denkers in ons regering sal die eerste wees om dit te erken. Maar gaan dink bietjie oor hoe dinge oor die laaste 20 jaar wel verander het. Sonder om in detail vas te val, toe ek in die middel negentigs in Windhoek aankom, was die voorkoms van die stad presies dit wat dit was: ’n Stad wat deur oorlog gegaan het. Wel nie ruïnes nie, maar vervalle en onversorg.

Kyk hoe lyk dit vandag. Die populasie het vervyfdubbel, hier is mooi geboue, jy kan by ’n verskeidenheid plekke inkopies doen, eerstewêrelds. Ons paaie is mooi, die ligte brand, ons het standhoudende watervoorsiening, dienste is geordend en stabiel. Ons universiteit het gegroei en uitgebrei - jy kan nou in Namibië ’n dokter word, of ’n tandarts, veearts, fisioterapeut, ingenieur, net wat jy wil. In my boek is dit nie tekenend van ’n onsuksesvolle regering nie.

Gebreke is daar vir seker, maar wys my enige plek in die wêreld waar daar nie is nie.

Op die minste hoort ons Namibiese regering die respek, hoflikheid en erkenning te kry wat hy verdien, gebreke en foute ten spyt.

Die persepsie in die afgelope maande is dat dit heel in orde is om politieke teenstanders blatant sleg te sê en te probeer verkleineer op onbeskofte wyse. Dit is wat my aanbetref ’n onding, onbeheersd en rui emosies op waar besluite eerder in kalmte en nugterheid geneem moet word. Dit kam ook die politieke debat af tot weinig meer as aanvalle teen die persoon eerder as argumentasie oor ’n beginsel.

Neem maar die Amerikaanse politiekery as voorbeeld. Dit is kwalik meer as ’n moddergooi-sirkus, weliswaar baie entertaining vir sommiges van ons, maar wil ons dit deel van ons politieke proses maak? Ek dink nie so nie.

Net so is die wit-swafrt ding wat onlangs sy kop uitgesteek het na 30 jaar ’n onding wat net gebeur wanneer wedersydse respek verlore gaan. Ons land is vry genoeg dat as jy voel jy ’n beter regering kan bedryf, administreer of skep, jy dit kan aanpak, maak nie saak of jy groen, pers of blou is nie.

Maar doen dit met respek: respek vir jouself, respek vir jou mede-landgenoot, en respek vir Namibië. Ons het mooi gedoen die laaste 30 jaar, kom ons hou dit so.

Van die soort kommentare wat ek gesien het op sosiale media t.o.v. die genoemde projek is nie iets waarop ’n persoon met selfrespek trots kan wees nie. Inteendeel, dit maak my skaam. Dis boonop soos om ’n brandende vuurhoutjie in die gras te gooi.

Kom ons hou ons politiek skoon. Namibië is wêreldwyd bekend vir sy vriendelikheid en warmte oor al die kultuurgrense heen. Dis ons kosbaarste besitting. Laat ons dit koester en beskerm.

Kommentaar

Republikein 2026-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer