Selfgeleerde kunstenaar maak treffende standbeeld

Rijarua trots op eindproduk
Tanja Bause
Tanja Bause – In die Okondjatu-nedersetting in die Okakarara-distrik staan 'n lewensgrootte standbeeld van 'n Brahmaanbul. Die standbeeld is die werk van Rijarua Buthelezi, 'n kunstenaar sonder enige formele kunsopleiding.

Buthelezi is in Otjinene in die Omahekestreek gebore en dit is waar hy grootgeword het.

“Ek het nie graad 10 geslaag nie en het die skool verlaat. By die beroepsopleidingsentrum het ek sweiswerk geleer, maar nooit kuns nie,” het hy gesê.

Hy het nog altyd van teken gehou.

“Ek is 'n gebore tekenaar. Dit is my eintlike passie en ook iets wat ek myself geleer het. Ek het myself ook geleer om goed soos blompotte uit sement uit te maak.”

Hy bied ook sy sweisvaardighede aan en mense huur hom om onder meer traliehekke, hoenderhokke en afdakke te sweis.

Vroeër vanjaar het iemand van Okondjatu hom gekontak en gevra of hy 'n standbeeld van 'n Brahmaanbul kan maak.

“Ek het nog nooit so iets groots gemaak nie, maar het gedink dat ek dit wel kan doen. Ek het die bul binne twee weke gemaak. Ek is baie trots op die standbeeld en sien uit om nog van hulle en ander diere te maak.”

Volgens hom het daar reeds bestellings vir nog kunswerke van diere ingekom nadat hy foto's van sy eindproduk op Facebook geplaas het.

“Ek is bly dat mense van my kunswerke hou en as ek nog bestellings vir sulke diere kry, kan ek Namibië mooi maak,” het hy gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer