Seidler skep nuwe Olimpiese moed

Twee medaljes en oorwinnings teen vorige Olimpiërs het sy selfvertroue laat groei om sy droom van Tokio 2020 te verwesenlik.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die 22-jarige Phillip Seidler van Swakopmund het Saterdag en Sondag twee bronsmedaljes by die Suid-Afrikaanse nasionale oopwaterswemkampioenskap in Jeffreysbaai opgeraap.

Hy het Saterdag by Marina Martinique die moordende 10 kilometer in 1 uur 58 minute 04.60 sekondes afgelê en die volgende dag die 5 km in 57:52.15 kafgedraf.

Die opbou na die grote in die Oos-Kaap was vir Seidler geensins maklik nie.

“Die ses weke voor die kompetisie was die donkerste tyd van lewe. My pa moes inderhaas ’n ope hartoperasie ondergaan wat ons familie vir 24 uur baie benoud gehad het.

“Ek het na Suid-Afrika met min selfvertroue en sonder enige hoë verwagtinge vertrek. Wat ek opnuut geleer het, is wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker. Ek is dankbaar vir my pa se tweede kans op die lewe.

“Dit was wonderlik om hom daar te hê en sy ondersteuning te geniet terwyl hy my gedurende die swemtog van voeding kon voorsien,” vertel hy.

“Die Saterdag het ek myself teen strawwe kompetisie verbaas en besef daar is nog veggees in my oor. Sondag het ek weer ’n derde plek in die 5 km resies behaal. Die 10 km is die belangrikste uitslag, want dit is ’n Olimpiese item en dit is waarheen ek mik.

“Beide renne was veeleisend, maar die twee podium-posisies het my selfvertroue ’n belangrike hupstoot gegee.

“Die water was Saterdag teen 26 grade Celsius bykans perfek en dit was windstil. Ek verkies natuurlik rowwer water. Wat wel rof was, is die kompetisie self waar baie kontak tussen die swemmers plaasvind.

“Die ouens swem oor en teen mekaar vas. Dit is nie vreemd om ’n elmboog in die ribbes of ’n hou in die gesig te kry nie; dit is normaal.

“Vir die Suid-Afrikaanse swemmers was dit die laaste kans om ’n plek vir die kontinentale kwalifiseerder in Seychelle te verseker. Hulle het uit die staanspoor vir die eerste vier kilometer die pas hoog opgejaag en ek het besef die ding gaan nie werk nie.

“Ek het vir die res van die tyd gesorg om in die vyfde of sesde posisie te bly en het takties geswem. Die laaste twee kilometer het om oorlewing gegaan en ek kon my versnelling eindstreep toe hard genoeg druk om derde te eindig.

“Ek is werklik in my noppies met die uitslag van die 10 km resies, want ek het Chad Ho (6de) van Suid-Afrika uitoorlê. Behalwe vir Ho het ek ook met sy landgenote Chris McGlynn (4de), Henre Louw (5de), Danté Nortjé (7de) en Byron Kimber (8ste, Australië) afgereken.

Ho is ’n ervare oopwaterswemmer wat Suid-Afrika reeds by twee Olimpiese Speles verteenwoordig het.

“Nou wag die Seychelle op 3 Mei vir my waar ek vir die 2020 Olimpiese Spele in Japan moet kwalifiseer. Daar wag agt weke van harde werk vir my voor voordat ek by hierdie FINA kontinentale kompetisie vir die 10 km swem gaan induik.

“Ek het ’n goeie kans om te kwalifiseer. In oopwaterswem gaan dit nie oor die tyd nie, want elke plek se toestande verskil. Ek moet wel die eerste Afrikaan by die eindpunt wees om ’n kontinentale plek vir Tokio te verseker.

“Daar is net 25 Olimpiese plekke vir die 10 km oopwaterswem in Tokio beskikbaar. Die eerste tien posisies verlede jaar by die wêreldkampioenskap in Gwanju, Suid-Korea, het reeds gekwalifiseer.

“Elke land mag ook net een swemmer na Tokio stuur. Dus is die eerste tien manne almal van verskillende lande en hulle mag ook nie aan verdere kwalifiserende rondes vir Japan deelneem nie.

“Ek het Dinsdag uit Suid-Afrika teruggekeer en gaan vandeesweek rustig verkeer. Vanaf volgende week gaan die vonke spat. Ek moet my spoed en uithouvermoë verder verbeter,” het Seidler aan Republikein vertel.

Seidler se beste 10 km tyd van 1:50:00 het hy juis verlede jaar in Gwanju behaal.

Die podiumposisies vir mans by die SA kampioenskap:

10 km (Saterdag): 1 Michael McGlynn (RSA) 1:57:03.17, 2 Danie Marais (RSA) 1:57:36.20, 3 Phillip Seidler (Namibië) 1:58:04.60.

5 km (Sondag): 1 Chris McGlynn (RSA) 57:45.63, 2 Byron Kimber (Australië) 57:49.47, 3 Phillip Seidler (Namibië) 57:52.15.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer