Seeroetes korter, maar risiko's vir skepe al meer

Vragvolumes styg

12 September 2018 | Sakenuus
Francois Williams – Versekeraars vrees snelveranderende seetoestande in die Arktiese See en die Noord-Atlantiese Oseaan verhoog die versekeringsrisiko van skepe en vrag.

Weens klimaatsverandering wat die pakys in van die Arktiese gebiede laat smelt, het nuwe skeepsroetes die afgelope paar jaar moontlik geword, wat die reistyd vir ’n vragskip tussen byvoorbeeld Suid-Korea en Frankryk met byna ’n week verkort. Pleks van deur die Middellandse See en die Suez-kanaal, kan skepe wat tussen Suidoos-Asië en Europa vaar, nou ’n korter roete via die noorde van Rusland volg, wat sowat 3 000 seemyl korter is. (Sien grafika)

Die versekeraar AGCS waarsku egter klimaatsverandering veroorsaak ’n toename in ysberge wat suidwaarts dryf en ’n botsingsrisiko vir skepe inhou in gebiede wat nie voorheen dié risiko gehad het nie.

Vroeg vanjaar is ’n mylpaal vir Arktiese seevaart behaal toe ’n spesiaal ontwerpte vloeibare-aardgastenkskip die eerste handelsvaartuig was wat in die winter die noordelike seeroete sonder die hulp van ’n ysbreker aangepak het. Die Eduard Toll het van Suid-Korea na Montoir in Frankryk gevaar via Noord-Rusland.

Dit het gevolg op die vaart in Augustus 2017 toe ’n ander spesiaal ontwerpte tenkskip die eerste handelskip was wat die Arktiese See in die somer sonder ’n ysbreker oorgesteek het. Dit het die skip 19 dae geneem om van Noorweë na Suid-Korea te vaar, wat byna ’n week korter is as via die Middellandse See.

’n Houerskip van die Deense skeepsredery Maersk is tans ter see in ’n baanbreker-toetsvaart vir ’n houerskip – hy vaar van Suid-Korea af na Bremerhaven in Duitsland via die noordelike seeroete, het Sputnik News Maandag berig.

Die vaart sal na verwagting 23 dae duur, teenoor 34 dae via die Suez-kanaal en 46 dae om die Kaap die Goeie Hoop. Die skip word vergesel van vier Russiese kernaangedrewe ysbrekers.

Rosatom, die Russiese staatsbeheerde kernmaatskappy wat die ysbrekers voorsien, bemark die roete aan skeepsrederye as ’n seerower-vrye roete met geen wagtye.

Navorsing wys die mediaan-sentrum van skeepsbedrywighede in die Arktiese gebied het oor ’n tydperk van sewe jaar 300 km noord en oos beweeg. Vragvolumes op die noordelike seeroete het in 2017 met byna 40% tot 9,7 miljoen ton gestyg, volgens inligting van die Russiese federale agentskap vir maritieme en riviervervoer. Dit kan teen 2022 tot 40 miljoen ton styg en teen 2030 tot tussen 70 miljoen ton en 80 miljoen ton.

Die nuwe skeepsroetes hou voor- en nadele in, waarsku Volker Dierks, hoof van mariene romponderskrywing by AGCS in Sentraal- en Oos-Europa.

China het in Februarie vanjaar sy planne vir ’n “Arktiese syroete” bekend gemaak om nuwe seeroetes te ontwikkel wat deur aardverhitting moontlik gemaak word.

Die internasionale kode vir die veiligheid van skepe in die Poolsee het in 2017 van krag geword. Dit stippel verpligte vereistes uit wat onder meer betref ysnavigasie, skeepsontwerp en bemanning.

Namate die ys in die Arktiese gebiede smelt, is daar al hoe meer ysberge wat in die pad van ander seeroetes kan indryf en ’n risiko vir skepe kan inhou, waarsku Arnaud Gibrais, ’n senior mariene-risikokonsultant van AGCS in Parys. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Wilde perde: Jongste vul reeds aangeval

5 ure gelede | Ministeries

Tanja Bause - Enige hoop op oorlewing van die Namib se wilde perde krimp al meer, terwyl die ministerie van die omgewing en toerisme na...

Leerlingdokters 'van swakker gehalte'

5 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht - Namibië bestee al ses jaar lank geld aan die opleiding van mediese studente in die buiteland.Volgens mnr. Cornelius Weyulu, registrateur van die...

Regulasies vir loterye en dobbel kom

5 ure gelede | Toerisme

font face="Verdana" >Francoise Steynberg - Alle rolspelers in die lotery- en dobbelbedryf moet landswye openbare werkwinkels bywoon sodat regulasies volgens nuwe wetgewing opgestel kan...

Gesondheidsmanne vas oor hospitaaltender

5 ure gelede | Ministeries

Twee administratiewe beamptes van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se kantoor op Otjiwarongo is op borgtog van N$5 000 elk vrygelaat ná hulle...

Weer, Woensdag 20 Februarie 2019

5 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en baie warm in die verre noordooste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele reënbuie in die...

Twee kinders met stok doodgeslaan

5 ure gelede | Misdaad

’n Angolese burger is in hegtenis geneem ná hy twee minderjarige kinders na bewering doodgeslaan het en hul ouma ernstig gewond het. Die voorval het...

Weerwaak teen hitte uitgereik

5 ure gelede | In beeld

Die Namibiese weerkantoor sê die kanse op reën is besig om te verbeter in die noordwestelike dele van die land, asook in die Khomasstreek, waar...

Duister SA bekommer NamPower nie

5 ure gelede | Energie

Augetto Graig - Namibië se nasionale kragverskaffer, NamPower, sê Suid-Afrika se kragverskaffer, Eskom, is nie die enigste bron waarmee plaaslike krag aangevul word nie. “Namibië...

Pack Safari open toergids-akademie

5 ure gelede | Toerisme

Pack Safari het amptelik die deure van sy toergids-akademie in Windhoek oopgemaak. Die akademie bied gratis beroepsopleiding aan plaaslike, Duitssprekende toergidse met FGASA Veldgids vlak...