Seer sitvlak vlieënde Ntando se enigste klagte
Atletiek
Marizanne Kok – Nadat hy vriend en vyand in Tokio verras het deur Paralimpiese goud in die verspring te verower, het die 19-jarige Ntando Mahlangu net een klagte gehad: sy sitvlak was seer.
Op die suksesvolste aand van sy jong lewe (minstens tot dusver) het Mahlangu homself Saterdag ses keer deur die lug tot in die sandput van Tokio se Nasionale Stadion gelanseer – en ses keer hard op sy boude geland. Maar, het hy geglimlag, dit was ’n klein prys om te betaal.
“My boude is nou baie seer, so ek sal na die fisioterapeut toe gaan,” het hy gesê.
“Ek het dit gevoel tussen my spronge, want ek het hard daarop geland. Maar my afrigter het vir my gesê: ‘dis nou of nooit’. Hy het die vrees uit my gehaal, so ek het my alles gegee. Ek het gevlieg.”
Mahlangu het só gevlieg dat hy Saterdag twee keer nuwe wêreldrekords in sy T61-kategorie laat spat het. Met sy eerste poging van 7.02 meter het hy nie net sy eie wêreldkerf met 55 sentimeter verbeter nie, maar al sy teenstanders ook die ritteltits gegee. En toe trek hy met sy laaste poging los met ’n monstersprong van 7.17 – iets wat selfs sy afrigter, Neil Cornelius, nie sien kom het nie.
Cornelius, wat Luvo Manyonga se afrigter was toe hy in 2016 Olimpiese silwer en in 2017 wêreldgoud gewen het, en Mahlangu het minder as twee maande gelede eers begin saamwerk, en die afrigter kon nie betyds akkreditasie kry om saam te reis na Tokio nie.
Hy het dus Saterdagmiddag met swetende hande voor die televisie gesit en stemboodskappe via die span se ingenieur na Mahlangu gestuur.
Ná sy laaste boodskap, waarin hy Mahlangu aangesê het om te ontspan en vreesloos te wees, het hy op die punt van sy stoel gesit en kyk hoe ’n glimlag om die tiener se mondhoeke krul net voor hy met sy laaste aanloop begin het.
“Toe weet ek, hier kom nou ’n ding,” sê Cornelius.
“Ek het nie noodwendig gedink hy gaan die goud vat nie, maar ek het geweet sy kop is nou reg vir ’n gróót sprong.”
Mahlangu beskryf die oomblikke waarin hy na goud gespring het as “baie kalm – die kalmste 40 sekondes van my lewe”.
Maar in Cornelius se huis was daar geen kalmte ná Mahlangu se sprong nie.
“Ek het geskree en te kere gegaan – die bure het beslis geweet iets groot het gebeur,” lag Cornelius.
“Ek het geweet hy het ’n 7-metersprong in hom, want ek kon in ons oefeninge sien hy is op die drempel van iets spesiaal. Maar om nog 17 sentimeter verder as dit te spring, is iets ongelooflik.
“Net om dit in perspektief te plaas: vir ’n atleet in Ntando se klassifikasie (T61, vir atlete wie se bene albei bo die knie geamputeer is) om 7 meter te spring, is soos vir ’n atleet sonder gebreke om by 9 meter uit te kom. En dit kon niemand natuurlik nog doen nie (die wêreldrekord is 8.95). Wat hy Saterdag gedoen het, is bomenslik.”
Mahlangu het nie net die rekordboeke herskryf nie, maar ook afgereken met atlete in die T63-klas, wat net een been aan amputasie afgestaan het en dus oor die algemeen verder spring as T61-atlete.
Dat dié jongeling met hulle almal kon afreken, is veral verstommend as in ag geneem word dat hy hom nog nooit werklik op die verspring toegespits het nie, en net sewe weke terug gevra het dat Cornelius hom onder hande moet neem.
“Ek het gedink dit sal lekker wees om te sien hoe ver ek hom kan vat, maar ek het met hom gesels en gesê ek soek 100% toewyding. Dit was eintlik nie eens nodig om hom te vra nie, want Ntando het die ongelooflikste werketiek – hy het ure en ure ingesit in die verspring en nét soveel aandag gegee aan sy 200 (waaraan hy komende Vrydag deelneem),” sê Cornelius.
“Ek was aan die begin maar baie versigtig met hom, want ek was bang ek maak hom seer as ek hom te hard druk. Maar ek het gou agterkom hy’s taai, die intensiteit waarmee hy geoefen het, was baie hoog.
“En toe ek eers agterkom Ntando is nie ’n brose outjie nie, toe lóói ek hom.”
Die breier sê Mahlangu was ver van die afgeronde produk toe hulle in Junie begin saamwerk het.
“Daar was baie om aan te werk, want hy het nooit voorheen regtig verspring geoefen nie. Hy het bloot staatgemaak op aggressie en die bord met brute krag geslaan, so ek moes hom leer wat die regte tegnieke is.
“Maar sy kop was reg. Sy potensiaal was van die begin af duidelik en hy was bereid om hard te werk. Dat hy in minder as twee maande soveel kon verbeter, is verstommend.
“Hy het nie Saterdag goud gewen omdat hy die meeste veerkrag of die meeste spoed gehad het nie, maar omdat hy die beste tegniek gehad het. Hy het regtig hard daaraan gewerk om meer beheer te kry.
“Ek moet wel sê: ons het aandag bestee daaraan dat hy nie heeltyd op sy boude land nie, maar hy het Saterdag soveel hoogte gekry dat dit moeiliker was om te keer. Maar ek het nie eens enigiets daaroor gesê nie, want hy het alles anders uitstekend gedoen.”
Cornelius sê net die tyd sal nou leer of Mahlangu gaan aanhou om hom op die verspring toe te spits.
“Ons sal maar moet sien wat hy daaroor besluit, maar oor een ding het ek geen twyfel nie: hierdie outjie gaan een van ons land se heel grootste sportlegendes word,” sê Cornelius.
“Hy is die volledige pakket. Hy het die talent, hy het die werketiek om seker te maak hy het al die vaardighede, en hy het al die sielkundige krag wat nodig is vir sukses.”
– Netwerk24
FOTO’s
Ntando Mahlangu juig oor sy triomf en wêreldrekord in die T63 verspring. Foto Nampa/AFP
Die ontvangs van sy goud by die Paralimpiese medaljeseremonie. Foto Gallo Images
’n Baie trotse Neil Cornelius Saterdag voor sy televisie, nadat sy afrigting van Ntando Mahlangu meer glorie opgelewer het as waarvan hy durf droom het. Foto verskaf

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie