Seefeldts stel voorbeeld vir jong boere

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

Marco Seefeldt (34), die NLU se jong­boer van die jaar vir 2013, het ’n ver pad gestap sedert hy 14 jaar gelede met net N$135 in sy sak, ’n Hilux-bakkie, vier beeste, sy Foxterriër, Rocky, en ’n paar kapokkies op Silversand naby Seeis begin boer het.
Dié geesdriftige jong boer is die oudste seun van Bernd en Rita Seefeldt en die vierde geslag op Silversand. Hy het in Windhoek skoolgegaan en daarna as passer-en-draaier gekwalifiseer. In 2000 was sy pa in ’n trekkerongeluk betrokke en lank afgeboek. Hy was genoodsaak om te gaan help boer.
In daardie stadium was Marco reeds ’n geregistreerde jaggids en het sy inkomste met vryskutwerk aangevul sodat hy nog beeste kon koop.
Hy het ook vir ekstra geld windpompe en enjins vir ander boere herstel en kon weldra sy kudde vergroot.
In 2005 het hy en Regina Bergmann van die buurplaas begin uitgaan. “Sy was die vers wat deur die draad gekruip het,” spot hy, met Voermeester se David Krause wat tydens die Jongboerdag op 12 Maart by die Seefeldts op die plaas gesê het hy wonder of dit nie eerder die bul was wat oor die draad gespring het nie.
Marco en Regina, wat sy aan sy boer, het drie kinders, met nommer vier wat binnekort sy of haar opwagting gaan maak. Gemeet aan die raakvat-manier waarop hulle die dag gereël en aangebied het, is dit duidelik dié egpaar is ’n gedugte span.

Vier geslagte
Marco se oupragrootjie, Paul Seefeldt, het dié 5 000 ha plaas gekoop en dit aanvanklik verhuur omdat sy seun, Werner, vir jare as ’n oorlogsgevangene in Amerika gevange gehou is.
Toe sy oupa Werner en ouma Helma uiteindelik kon begin boer, het hulle in Windhoek gewoon en op plase in die omgewing huise gebou om te oorleef.
Ná Marco se ouers oorgeneem het, het hulle uit kommersiële beesboedery en trofeejag ’n bestaan gevoer. “Dit was nie altyd maklik om op 5 000 ha gedurende die tagtiger- en negentigerjare met hul baie droogtes ’n bestaan te voer nie – veral nie met drie kinders in ’n private skool nie,” se Marco.
In 2009 het Marco en Regine die boerdery in geheel by sy ouers oorgeneem en betaal huur vir die grond.
“Ons is trots om nou die vierde geslag te wees wat hier op Silversand boer,” sê Marco, wat dankbaar is vir die geleentheid wat sy ouers hulle bied.

Drie stoete
Die Seefeldts boer met drie stoete, naamlik Angus, Brahmaan en Charolais. Daarme saam het hulle ook ’n kommersiële kudde.
“Ons Angus-kudde bestaan uit 17 koeie en verse. Hier doen ons slegs kunsmatige inseminasie, want dit is nog nie die moeite werd om ’n stoetbul aan te hou nie,” vertel Marco.
“Die Charolais-kudde bestaan uit sowat 60 koeie en verse en hier gebruik ons stoetbulle en kunsmatige inseminasie vir genetiese vordering. Semen word uit Frankryk ingebring om nuwe bloedlyne te kry waarmee ons genetika kan verbeter.
“Die Brahmaan-kudde is 100 koeie (wit en rooi) sterk. Die rooi kudde bestaan maar nou eers uit 30 diere. Ons het laasjaar eers met rooi Brahmane begin boer toe ons die Onjati-stoet van Sigi von Lüttwitz oorgeneem het.
“In die wit kudde het ons die laaste jare drie bulle gebruik wat onlangs deur die NSV (Namibië Stoettelersvereniging) vir genomiese toetse genomineer is.”
Die Seefeldts boer tans op 13 000 ha. Dit is danksy ’n 8 000 ha plaas wat skoonpa Clausi Bergmann as erfporsie aan hulle gegee het.
“Deur harde werk en baie kopkrap en sommetjies maak, staan ons koeikudde nou op 600. Uit die stoetery produseer ons bulle vir die mark wat op veilings verkoop word, of vir ons eie gebruik aangewend word. Ons is deel van die Central Select-groep en bied ook die Silversand-veiling in Windhoek aan.
“In die kommersiële kudde produseer ons speenkalwers, slagosse en vervangingsverse.”
Hul Charolais-kalwers word meestal tussen 7 en 9 maande (250 tot 280 kg) as speenkalwers bemark wanneer hul kontantvloei dit vereis. Marco en Regine het al by talle speenkalfkompetisies met die louere weggestap.
Die Brahmaan-kruisings word meestal as slagosse grootgemaak en bemark as hulle 450 kg weeg en hul kondisie reg is.

Voeding en
gesondheid
Al die beeste kry ’n somer- en winterlek as die finansies dit toelaat, sê Marco. “Klipsout is egter ons beste lek en ons sit dit gereeld uit in die veld vir die beeste sowel as die wild. Die bulle word afgerond met Rangeland Grower en Beefpro 14.”
Verder, sê hy, word al die beeste twee tot drie keer per jaar met Deadline of Delete All behandel en ingeënt. Hulle gebruik Dektomax vir inwendige parasiete en Multimin en vitamien A word op ’n gereelde grondslag vir die beeste, sowel as die skape en bokke gespuit. “’n Mens kan net met gesonde diere boer,” voeg hy by.

Trofeejag
Sowat 40% van hul jaarlikse inkomste kom uit trofeejag. Hulle het drie luukse rondawels waar die jagters tuisgaan en neem tussen 1 en 8 gaste op ’n slag in.
Indien die groep te groot is, maak hulle van beroepsjagters van buite gebruik.
Verder doen Marco ook sweis- en paneelklopwerk en herbou ou Land Cruisers en plaasbakkies vir kliënte. Deur een so ’n herbouing per maand te doen, kan hy die huur van Silversand betaal.

Bloubuffel-lande
Marco het oor die 500 ha onder bloubuffelgras en is besig met die ontbossing van nog 500 ha waar hy nog aangeplante weiding wil vestig.
Die plan is om uiteindelik sy drakrag met 1 500 ha se aangeplante bloubuffelgras te verbeter.
Marco hou een grootvee-eenheid op 20 ha aan. “Dit het natuurlik verlede jaar baie gehelp, want ons was nie te swaar bestok nie en kon ons diere hou.”
Verder sny en baal hy ook jaarliks sowat 5 000 bale hooi langs die teerpad om sy reserwes te bou vir die droë jare en om sy skoudiere mee af te rond.

Kommentaar

Republikein 2025-11-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer