See ruk voertuig uitmekaar

Tanja Bause
Tanja Bause - Die see het Maandag ’n voertuig by Sandvishawe verswelg.

Mnr. JP Koch van Red Dune Safaris, wat daagliks die pad gebruik waar die ongeluk plaasgevind het, sê: “Ek en my twee gaste (toeriste) het gery en ek het in ’n gat in gery. Dit is een van daai gate wat jy nie sien nie. Jy ry en skielik gee die grond mee.

“Ek kon nie uitkom nie en daar was niemand anders in die omgewing wat my kon help nie. Ek het per radio om hulp geroep, maar niemand kon my hoor nie. Ek het probeer om op my eie uit te kom, maar dit was tevergeefs en niemand het opgedaag nie. So het die tyd verbygegaan en die see het die voertuig uiteindelik ingesleep.”

Gelukkig is niemand in die proses beseer nie.

Koch en sy gaste het begin stap en op ’n toergroep afgekom.

“Die groep het my toeriste saamgevat en hulle kon dus hul toer deur die duine voltooi. Ons ding almal met mekaar mee, maar wanneer ons in die duine is en iemand is in die moeilikheid, dan staan ons saam en help mekaar.”

Koch het saam met mnr. John Reinders terug na die wrak gery.

“Ons het gedink ons kan die voertuig nog uitry, maar toe ons daar aankom, het ons gesien die see het die voertuig heeltemal verniel. Die voertuig is uitmekaar geskeur, die deure is afgeskeur en stukke het rondgelê. Ek het foto’s geneem en ons is daar weg,” sê hy.

Gister (Dinsdag) om 07:00 het Koch se broer en insleepdienste na die toneel gery om die wrakstukke te verwyder.

“Dit is ’n stuk strand wat nie heeldag gery kan word nie. Mens kan slegs vir twee ure voor en twee ure ná laagwater daar wees. So, as hulle nie alles vandag kan verwyder nie, sal hulle vroeg môre weer uitry en alles skoonmaak.”

“As ’n verantwoordelike toerismeonderneming is dit ons verantwoordelikheid om die strand skoon te maak en skoon agter te laat, en dit is wat ons gaan doen.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer