• Tuisblad
  • Sake
  • Seaflower verduidelik vernietiging van vis, kreef
Seaflower verduidelik vernietiging van vis, kreef
Seaflower verduidelik vernietiging van vis, kreef

Seaflower verduidelik vernietiging van vis, kreef

Nagenoeg twee ton vis en kreef is op Lüderitz vernietig omdat dit nie meer vir menslike gebruik geskik was nie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Seaflower Whitefish Corpora­tion op Lüderitz sê dit is onwaar dat hy groot hoeveelhede vis op dié kusdorp vernietig het terwyl mense wat honger is, dit kon eet.

Dié stokvismaatskappy van die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor) het verlede week 'n brief aan die direksie gestuur om die rede vir die vernietiging van stokvis en kreef te verduidelik nadat 'n video daaroor soos 'n veldbrand in die sosiale media versprei het.

Die video wys hoe bokse vis in twee groot vullishouers gestort word.

“Dit is wat hier by Seaflower gebeur waar plus-minus twee ton vis weggegooi word,” vertel die man wat die video gemaak het. Volgens hom makeer die vis niks en verval dit eers in 2022.

Dit blyk uit die brief aan die ­direksie Seaflower het op 13 Januarie stokvis weggegooi wat met ammoniak besmet is toe 'n pyp in die verwerkingsaanleg gebars het (op 30 Julie verlede jaar).

Seaflower sê gewoonlik word ­besmette produkte aan die begin van die nuwe visvangseisoen (1 November) vernietig, maar dit kon weens die impak van Covid-19 toe eers op 13 Januarie geskied.

Verder sê Seaflower sy bote het in Desember groot hoeveelhede kreef suid van Lüderitz gevang en toe hulle terugkom in die hawe, het van die kreef nie meer geleef nie.

Seaflower verduidelik in só 'n geval word die dooie krewe se koppe verwyder en net die sterte word gehou en verpak. Dit wat nie bruikbaar is nie, word weggegooi.

Die vismaatskappy sê die Nasionale Instituut vir Standaarde (NSI) het hierdie produkte as ongeskik vir menslike gebruik gesertifiseer voordat dit vernietig is.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer