SDG-boekie help in stryd teen armoede
SDG-boekie help in stryd teen armoede

SDG-boekie help in stryd teen armoede

Maria Eiseb
Maria Eiseb - Die regering kan nie alleen die taak van volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) op sy skouers dra nie en het die hulp van die private sektor in Namibië nodig.

Dít was die boodskap van mnr. Klaus Schade, uitvoerende direkteur van die Ekonomiese Vereniging van Namibië (EAN), Vrydag tydens die amptelike bekendstelling van ‘n inligtingsboekie oor SDG’s.

Sowat 53 000 van dié boekies is deur Namibia Media Holdings (NHM) gedruk en Vrydag in sy dagblaaie, Republikein, Namibian Sun en Allgemeine Zeitung, versprei. NHM se vennote in dié projek was die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram (UNDP), die Hans Seidel-stigting, EAN en FNB Namibia.

“Dit is almal se taak om die doelwitte te bereik,” het Schade gesê.

“Ons moet meer doen as wat ons reeds doen,” was die uitvoerende hoof van die Hans Seidel-stigting, dr. Clemens von Doderer, se boodskap.

Volgens me. Kiki Gbeho, die UNDP se verteenwoordiger in Namibië, is die 17 SDG’s ontwikkel om mense se lewe verander.

Gbeho sê op die gebied van ontwikkeling het Namibië heelwat suksesverhale, hoofsaaklik vanweë ‘n stabiele ekonomie en ‘n fokus op maatskaplike dienslewering.

Namibië is toonaangewend in sover dit die vermindering van armoede in Afrika betref, sê sy. Die jongste syfers van die Namibië Statistiekagentskap toon armoede het van 27% tot 18% van die bevolking gedaal.

Die VN is oortuig dat armoede uitgewis kan word en 600 000 Namibiërs uit dié euwel opgehef kan word, sê Gbeho. Heelwat moet egter nog gedoen word.

“Die SDG-boekie is dus geweldig relevant vir Namibië,” sê sy.

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer