Satelliete hou eersdaags elke kragstasie dop
Satelliete hou eersdaags elke kragstasie dop

Satelliete hou eersdaags elke kragstasie dop

Deur die groeiende mag van AI staan ons op die punt om dié sluier wêreldwyd te lig, sê die uitvoerende hoof van WattTime.
William Horne – ’n Swerm satelliete gaan eersdaags die vermoë hê om elke groot kragstasie ter wêreld dop te hou en akkuraat hul besoedelende koolstofvrystellings te meet en te openbaar.

WattTime, ’n Amerikaanse organisasie sonder winsoogmerk, het Dinsdag sy nuwe projek aangekondig nadat hy en ’n handjie vol soortgelyke ondernemings $1,7 miljoen by Google gewen het in ’n kompetisie oor hoe kunsmatige intelligensie (AI) gebruik kan word om besoedeling en klimaatsverandering te bestry.

“Te veel kragmaatskappye wêreldwyd hou hul statistieke oor besoedeling geheim. Maar deur die groeiende mag van AI staan ons klein vereniging van organisasies sonder winsoogmerk op die punt om dié sluier wêreldwyd te lig,” het Gavin McCormick, uitvoerende direkteur van WattTime, gesê.

“Om te dink dat ’n klein span soos ons s’n vandag ontluikende AI-afstandswaarnemingstegnieke kan gebruik om elke magtige besoedelaar wêreldwyd aanspreeklik te hou, is werklik ongelooflik.”

WattTime se tegnologie benut die reeds bestaande netwerk van duisende satelliete om die aardbol en hul sensors om data te versamel wat sy gevorderde AI en programme saamstel om akkurate vrystellingsyfers te bereken.

Met die etlike duisende satelliete wat om die aarde wentel tot hul beskikking en die bewese tegnologie agter hulle naam, is daar geen kragstasie wat hul monitering meer kan ontduik nie.

Tot dusver is die enigste opsie om kragstasies se vrystellings akkuraat te monitor die installasie van duur en onbetroubare regstreekse toerusting op elke skoorsteen. Die meeste maatskappye kan of wil nie dié toerusting aanskaf nie, en dié wat dit het, reik nie noodwendig die inligting uit nie.

Volgens die jongste State of Global Air-verslag is lugbesoedeling nou die vyfde grootste sterfterisiko ter wêreld. Met 5 miljoen vroeë sterftes verwant aan lugbesoedeling elke jaar en 147 miljoen leefjare wat só vroeg verlore gaan, is WattTime se tegnologie broodnodig vir ’n wêreldbevolking wat informasie nodig het om verandering betyds aan te bring, berig Vox. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer