‘Satelliet-kompetisie’ se ­inskrywingsdatum verleng

Jacqueline Louw
Deelnemers het nou tot Vrydag 20 November 2015 tyd om vir die DStv Eutelsat Star-­kompetisie in te skryf.
MultiChoice en Eutelsat moedig alle leerders van die ouderdom van 14 tot 18 jaar aan om ’n opstel te skryf of ’n plakkaat te ontwerp oor hoe­ ­satelliete ons help om ons planeet te verstaan en daarna om te sien.
Dié kompetisie is oop vir alle ­leerders van hoërskole of ­gekombineerde skole in Afrika waar MultiChoice Africa ondernemings bedryf.
Inskrywingsvorms is by enige MultiChoice-hulpbronsentrum of -kantoor beskikbaar en kan ook van www.dstvstarawards.com a­fgelaai word.
Inskrywings kan in Engels, Frans en Portugees ingedien word. Slegs in­skrywings wat op die ­voorgeskrewe vorm ingedien word, sal vir pryse in aanmerking kom.
Deelnemers aan die ­opstelwedstryd staan nie net ’n kans om groot pryse in hul onderskeie lande te wen nie, maar die algehele wenner sal ’n reis saam met sy of haar ouer of voog na ­Eutelsat in Parys, Frankryk, wen. Daarna sal hulle ook ’n ruimtevlugsentrum besoek om ’n ­vuurpyllansering by te woon. Die algehele wenner van die ­plakkaatkompetisie sal ’n reis saam met sy of haar ouer of voog na ­Eutelsat in Parys wen asook ’n besoek aan ’n satellietkonstruksieterrein. ­Naaswenners van die opstel- en plakkaatkompetisies sal ’n reis saam met sy of haar ouer of voog na MultiChoice in Johannesburg en die Suid-Afrikaanse ­Nasionale ­Ruimteagentskap by Hartebeesthoek wen.
Die wenners sal gedurende ­Februarie 2016 tydens ’n glans­ryke toekenningseremonie in Uganda aangekondig word.

Kommentaar

Republikein 2026-03-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer