Saru en Covid fnuik Welwitschias
Saru en Covid fnuik Welwitschias

Saru en Covid fnuik Welwitschias

Rugby
Tielman van Lill
Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie se bekendmaking dat Namibië nie by sy provinsiale kompetisiestruktuur vir 2021 ingesluit is nie, is vir die Namibië Rugby-unie (NRU) ’n gevoelige slag.

Die plaaslik gebaseerde Welwitschias se blootstelling teen sy Wêreldbekerhouer-buurman se professionele unies het die land ’n strategiese voorsprong teen sy kontinentale uitdagers soos Kenia en Zimbabwe besorg in die voortdurende wedlope om kwalifisering vir die Wêreldbeker.

Sonder deelname aan kompetisies soos die Curriebeker word die toekomspad beslis meer onseker vir Johan Diergaardt, wat sedert sy aanstelling vroeg vanjaar as nasionale afrigter nog nie ’n enkele wedstrydverpligting gehad het nie. Namibië streef na sy sewende opvvolgende WB-kwalifikasie in 2023.

Mnr. Corrie Mensah, president van die NRU, het dié week in ’n nuusverklaring gesê: “Die NRU lig hiermee almal in dat hy daadwerklike pogings aangewend het om met sy vennote te onderhandel sodat die nasionale span in 2021 aan verskeie kompetisies kan deelneem.

“Die Covid-19-pandemie het ’n groot impak op die 2020-seisoen gehad en daar was geen kanse vir ons nasionale span om te speel nie. Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ons ingelig dat sy algemene raad besluit het om ons nie volgende jaar te akkommodeer nie.

“Tydens SA Rugby se laaste algemene vergadering is besluit om hul fokus intern te maak, want Covid-19 het hul planne en kompetisies geherstruktureer en Saru sal nie die NRU in 2021 kan bystaan nie.

“Nietemin bly die NRU positief dat ons in staat sal wees om ’n betekenisvolle en opwindende program vir ons spanne, borge en ondersteuners vir volgende jaar te reël.

“Ons wag vir inligting van Wêreldrugby betreffende die Nasiesbeker en Rugby Afrika se senior kontinentale bekerreeks, asook die o.20-Barthestoernooi. Sodra ons dié inligting ontvang, sal die NRU in staat wees om bykomende wedstryde te reël.

“Die NRU was reeds met Saru in verbinding oor die moontlikhede om vriendskaplike wedstryde teen sy unies te speel.

“Die NRU spreek sy lof uit teenoor al ons spelers wat by die hoëprestasieprogram gehou en pligsgetrou en met groot toewyding gedurende die jaar aanhou oefen het. Ons wil die klubs aanspoor om so gou as moontlik met oefensessies vir volgende seisoen te begin sodat ons spelers gereed is vir die groter uitdagings.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer