Sanral nou streng oor 'konstruksie-mafia'
Sanral nou streng oor 'konstruksie-mafia'

Sanral nou streng oor 'konstruksie-mafia'

Elvira Wood



Dit lyk of die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) 'n tweede Mtentu-brug-fiasko deur middel van kontrakreëls wil voorkom.

MDA Prokureurs waarsku Donderdag in 'n verklaring dat Sanral einde 2019 beduidende veranderings aan sy standaardkontrak met kontrakteurs aangebring het.

Volgens Kelly Meijers, 'n senior vennoot van MDA, sal dié veranderings dit vir 'n kontrakteur baie moeilik maak om force majeure te verklaar.

'n Force majeure verwys na 'n onverwagte gebeurtenis wat nie een van die partye se skuld is nie en nie voorsien kon word nie.

Suid-Afrikaanse konstruksiemaatskappye sukkel die afgelope tyd baie met geweld op persele waar sogenaamde “konstruksiemafia” die bedrywighede ontwrig of tot stilstand dwing.

Luidens konstruksiemaatskappye wil dié groepe óf hê dat lede van hul gemeenskap in diens geneem word óf hulle eis omkoopgeld.

Hulle skroom nie om die werkers te dreig of gewelddadig op te tree nie.

Die onderbrekings aan bouwerk wat deur dié tipe voorvalle veroorsaak word, kan as force majeure geklassifiseer word.

Sanral het al meer as een keer met dié probleem te doen gekry.

Een van die bekendste gevalle was dié van die Mtentu-brug wat in die Oos-Kaap gebou word.

Nie eens 'n hofbevel kon Aveng en sy vennoot Strabag International oortuig om met die bouwerk voort te gaan nie.

Die kontrak vir die brug beloop R1,65 miljard.

Hulle het voet by stuk gehou dat die “mafia”-groepe hul werkers dreig en intimideer, en dat hulle 83 dae agtereenvolgens nie kon werk nie.

Die hof het egter ten gunste van Sanral beslis nadat hy bevind het dat Aveng nie voldoende stappe gedoen het om die probleem op te los nie.

Sanral kan boetes opeis van soveel as R267,5 miljoen.

Aveng en Strabag sal elk 50% daarvan moet betaal, sou dit suksesvol wees.



NUWE KONTRAKTEUR

Sanral moet ook 'n nuwe kon­trakteur aanstel om die werk af te handel.

Meijers sê die nuwe reëls, wat Sanral insluit by sy kontrakte waarvoor hy aan die einde van 2019 tenders uitgereik het, gaan dit haas onmoontlik maak vir konstruksiemaatskappye om 'n force majeure te verklaar.

Die kontrakte is juis vir werk op die N2- en N3-hoofweë in KwaZulu-Natal. Die “konstruksiemafia” is veral berug vir hul optrede in dié provinsie.

“Sanral se vorige kontrak het dit vir kontrakteurs moeilik gemaak om hierdie ontwrigtings as force majeure-gebeure te omskryf.

“Sy nuwe kontrak maak dit nog moeiliker, en dit bring beduidende risiko's vir kontrakteurs,” waarsku sy. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer