Sanlam se nuwe sake groei met 11%
Sanlam se nuwe sake groei met 11%

Sanlam se nuwe sake groei met 11%

Jo-Mare Duddy Booysen
Elvira Wood



Ondanks die druk op verbruikers se besteebare inkomste, het die Sanlam-groep se nuwe sake in 2016 met 11% tot R233 miljard toegeneem.

Hy het Donderdag sy resultate vir die jaar tot einde Desember in Sandton bekend gemaak.

“Verlede jaar was 'n uitdagende jaar vir die meeste Suid-Afrikaanse maat­skappye. Suid-Afrika het heelwat eie doele aangeteken. Vanjaar sal ons moet vasbyt,” sê Ian Kirk, uitvoerende hoof.

Sanlam se verwaterde wesensverdienste per aandeel het met 6% tot R4,88 gestyg.

'n Dividend van R2,68 per aandeel is verklaar.

Sanlam meen egter ondanks uitdagings is hy goed vir die toekoms geposisioneer.

Sanlam het in sy resultatevoorlegging die druk op ontluikende ekonomieë weens laer hulpbronpryse beklemtoon, maar nogtans het sy nuwe sake net in hierdie lande met 63% tot R23,69 miljard gestyg, ver bo die teiken. Dit is veral danksy die verkryging van Saham Finances, 'n versekeringsgroep wat in 26 lande in Noord-, Wes- en Oos-Afrika, asook in die Midde-­Ooste, bedrywig is.

Heinie Werth, Sanlam se nuwe finansiële hoof, sê Sanlam wil vanjaar sy belang in Saham van die huidige 30% tot 46,6% vergroot.

“Ons wil voortaan ons bestaande bedrywighede organies groei, maar ons sal nie huiwer om nog verkrygings te oorweeg indien dit binne die strategie pas nie,” sê Kirk.

Kirk sê hoewel die demonetiseringsprogram in Indië nie enige impak op die 2016-resultate gehad het nie, daar moontlik wel vanjaar 'n impak kan wees. Indië se verreikende hervorming van sy geldstelsel sedert November het tot 'n tekort aan kontant in die land gelei.

Die sterker rand het Sanlam se inkomste uit beleggings in die buiteland nadelig beïnvloed.

“Die wisselvallige wisselkoers het 'n beduidende impak op ons resultate gehad, veral waar ons inkomste van dollar na rand omgeskakel is,” sê Kirk.



Suid-Afrika

Kirk beskou 2017 se Suid-Afrikaanse begroting as een van die nuwe uitdagings vir beleggers. “Daar was reeds druk op die verbruiker en die huidige begroting gaan selfs meer druk op diskresionêre beleggings plaas,” meen hy.

“Die 2017-begroting gaan veral druk op ons hoërinkomstekliënte plaas en ons gaan moontlik minder enkele beleggings in die toekoms sien,” sê Kirk.

Kirk sê Suid-Afrika bly 'n belangrike mark vir Sanlam ondanks sy uitbreidings elders op die vasteland en in die wêreld.

Sanlam het ook sy teenwoordigheid plaaslik vergroot deur 'n meerderheidsbelang van 53% in die lewensversekeringsmaatskappy BrightRock vir 'n bedrag van tot R707 miljoen te koop. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer