Sanlam gedy ondanks swak ekonomie
Sanlam gedy ondanks swak ekonomie

Sanlam gedy ondanks swak ekonomie

Jo-Mare Duddy Booysen
Elvira Wood - Sanlam se nuwe sake het in die halfjaar tot einde Junie met 15% of R115 miljard toegeneem ondanks die stadige ekonomiese groei.
Die finansiëledienstereus se halfjaarresultate wat gister in Suid-Afrika­ uitgereik is toon ’n 7,9%-opbrengs op groep-ekwiteitswaarde per aandeel is gelewer. Dit is hoër as die teiken van 6,8% wat Sanlam gestel het.
Sanlam plaas toenemend sy hoop op groter groei uit die res van Afrika waar ekonomiese groei sterker is, veral met sy verkryging van Saham Finances wat afgehandel is en wat hom ’n groter voetspoor in Afrika en die Midde-Ooste gaan gee.
Sy genormaliseerde wesensverdienste van R4,3 miljard is egter 7% laer as in 2015. Dit is weens die swakker prestasie in beleggingsmarkte en eenmalige uitgawes.
“Ons kliënte kan dus gerus wees. Ons kapitalisasie dek veel meer as wat ons verpligtinge is, wat beteken ons kan ons beloftes nakom,” sê Kobus Möller, finansiële direkteur van Sanlam.
Volgens hom het Sanlam, ongeag die groeiende druk op die verbruiker se besteebare inkomste, nog glad nie ervaar dat mense nie meer premies betaal nie.
“Dit is baie belangrik dat mense moet aanhou spaar, ongeag by wie hul belegging is. Die markte mag dalk ook op die oomblik wisselvallig wees, maar Suid-Afrikaanse versekeraars word volgens wet verplig om ’n sekere kapitalisasievlak te handhaaf, so mense se polisse is veilig,” ver­seker hy.
Volgens Sanlam toon sy bedrywighede in die res van Afrika veel meer potensiaal om te groei as die plaaslike mark. Dit is hoofsaaklik omdat baie minder mense in hierdie gebiede aan versekering blootgestel is en daar dus baie meer ruimte is om uit te brei.
“Ons vind korttermynversekering is redelik algemeen bekend in ontwikkelende markte, maar daar is definitief groot potensiaal vir ander produkte soos pensioen en lewensversekering,” sê Möller.
Die lae oliepryse beperk groeigeleenthede in lande soos Angola en Nigerië wat baie van olie-uitvoer­inkomste afhanklik is.
Benewens Afrika sien Sanlam ook groot potensiaal in Indië.
Vir die res van 2016 verwag Sanlam die ekonomie gaan steeds onder druk bly en dat sake- en verbruikersvertroue waarskynlik nie gaan verbeter nie.
Hy waarsku aandeelhouers dat rentekoerse, ’n wisselvallige geldeenheid en die opbrengs uit aandelemarkte ’n invloed op die groep se verdienste kan hê. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer