Sanlam doen grootste belegging nóg

Dit sal Sanlam se posisie verstewig as die grootste finansiëledienstegroep in Afrika, uitgesluit banke.
Nellie Brand-Jonker - Sanlam het sy grootste belegging nog van R12,5 miljard aangekondig. Heinie Werth, finansiële direkteur van Sanlam, sê dié belegging, om die 53,4% in Saham Finances te koop wat Sanlam nog nie besit nie, is Sanlam se grootste nog.

Ian Kirk, uitvoerende hoof, het met die bekendmaking van Sanlam se resultate vir die jaar tot einde Desember gesê dit is waarskynlik die grootste transaksie nog deur ’n finansiëledienstegroep in Afrika.

Dit sal Sanlam se posisie verstewig as die grootste finansiëledienstegroep in Afrika, uitgesluit banke.

Saham Finances het die grootste markaandeel in die meeste van die 26 lande in Afrika waar hy bedrywig is.

Sanlam het reeds twee jaar lank ’n belang in die onderneming. Werth sê Saham verkoop korttermynversekering en daar is geleenthede om dit as grondslag te gebruik om lewensversekering in Afrika uit te brei.

Sanlam gaan sy oortollige kapitaal van R3,5 miljard daarvoor aanwend, terwyl die res moontlik met kort- tot mediumtermyn-skuld en met aandele gefinansier sal word.

Kirk sê Sanlam word in Junie 100 jaar oud en is vanjaar ook 20 jaar genoteer.

“Die groep verskil vandag baie van wat dit tien en 20 jaar gelede was en is groter, meer divers en meer kompleks.”

Hy sê die groep het ontwikkel van ’n Afrikaanse maatskappy wat op die middelklas gerig was, tot een wat in 42 lande bedrywig is en aan verskillende inkomstegroepe produkte verkoop.

Volgens hom het Sanlam goeie resultate in baie moeilike toestande behaal. Dit is weens sy jare lange strategie om nie bloot meer produkte te verkoop nie, maar om dit teen die regte marges te verkoop.

“Ons het die onderneming oor alle sakesegmente op winsgewende wyse opgebou.”

In die jaar onder oorsig het Sanlam se bedryfswins per aandeel met 7% gestyg.

Werth sê dit is ten spyte daarvan dat die verkope van nuwe produkte met 1% tot R230 miljard gedaal het. Dít is toegeskryf aan druk op enkelpremie-beleggingsprodukte wat deur Glacier en Sanlam Private Wealth verkoop word.

Sanlam het reeds met sy halfjaarresultate gesê meer welvarendes het begin remme aanslaan met hul beleggings weens die politieke en ekonomiese onsekerheid in die land.

Werth glo dit gaan dié jaar omswaai. “Ons is nie onrealisties positief nie, maar met die verandering is ons optimisties dat dinge beter kan gaan.”

Die netto waarde van nuwe lewenskontrakte het met 15% tot R1,8 miljard gestyg danksy die feit dat meer winsgewende produkte verkoop is.

Volgens hom het hulle die beste winsmarge nog op lewensprodukte bereik van 2,9%.

Hy het dit toegeskryf aan markaandeel wat in die middel- en laerinkomstemark teruggewen is waar begrafnis- en lewenspolisse verkoop word. Dit is bereik danksy jare se volgehoue pogings om produkte en die verspreiding (agente, makelaars en direkte verkope) te verbeter.

Die dividend is met 8,2% tot 290c per aandeel verhoog. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer