Sanger, liedjieskrywer van formaat

Alvara is ’n kampvegter vir aktivisme en regverdigheid.
Tanja Bause
Tanja Bause

“Ons behoort hier, ons is hier gebore. Ons rig geen skade aan iemand aan nie en ons is net so geregtig om te sê wanneer ons seer is en hulp nodig het. En ons het hulp nodig en ons moet opstaan en dit sê,” het Alvarita Benedito Lucungo (19) gesê.

Alvarita, beter bekend as Alvara op die verhoog, is ’n Namibiese sanger en liedjieskrywer wat tans aan haar tweede album werk.

Sy is in Windhoek gebore en het in ’n enkelouerhuis grootgeword.

“Ek is met gloukoom gebore. Dit beteken die optiese senuwee is beskadig en jou oog is met vloeistof gevul. Ek is baie gelukkig dat my senuwee nie té erg beskadig is nie en ek nog bietjie sig het. Ek kan bietjie sien, maar ek maak hoofsaaklik op my gehoor staat.”

Alvara het al op ’n jong ouderdom besef sy is anders, omdat sy nie so veel selfvertroue soos die ander kinders gehad het om rond te hardloop nie.

“Ek moes ook twee keer per jaar na ’n snaakse man toe gaan wat baie vreemde instrumente gehad het en my oë met magiese druppels gebrand het. Ek het geweet ek is anders. Ek moes ook na ’n arbeidsterapeut gaan sodat ek kon leer om reg te loop. Ek het altyd na die vloer gestaar, want ek was bang ek val oor iets.”

Op skool is daar teen haar gediskrimineer, omdat onderwysers haar nie in hul klas wou hê nie.

“Hulle het gedink ek het baie hulp nodig en met 40 kinders in ’n klas wou niemand my in hul klas hê nie. Al wat ek regtig nodig gehad het, was om in die eerste ry te sit en dat hulle bietjie groter op die swartbord skryf en my skoolwerk groter uitdruk.”

Alvara was tot graad 9 in hoofstroomskole en het die res van haar skoolloopbaan met tuisonderrig voltooi.

“Ek het skool klaargemaak en toe kom 2020 en Covid-19 en ek was gedwing om ’n oorbruggingjaar te vat. Ek is tans besig om berading te studeer. Geestesgesondheid is iets was baie na aan my hart lê en ek voel ek kan mense help.”

MUSIEK

Haar pa is oorspronklik van Angola en hy het ’n tas vol ou kassette van verskillende sangers, groepe en genres gehad. Haar ma is ’n goeie skrywer.

“Ek het my musiektalent van my pa en my skryftalent van my ma geërf.”

“Ek het nie wakker geskrik en gesê ek wil ’n sanger word nie. In 2018 het ek ’n advertensie vir oudisies vir Song Night gesien en vir my suster gesê ons moet vir die grap inskryf. Ek het gedink dit is iets wat ons vir die pret kan doen en ons het ’n storie om te vertel. Ná die oudisie het iemand ons gebel en gesê ons is deur na Song Night. Ons het ernstig saam met Lize Ehlers begin oefen. Dis toe ek besef dit is my passie en dis wat ek wil doen. Hier was ek gemaklik en ek is aanvaar nes ek is.”

Sy het haarself geleer wat ’n vers en ’n refrein is en haar eerste liedjie geskryf.

“Die eerste een was nie baie goed nie, maar ek het aangehou en ’n jaar later het ek ’n album met nege liedjies vrygestel. Die album se naam is FIN, omdat dit die einde van my stilte was. Ek was altyd ’n stil mens. Wanneer ek iets gesien het wat byvoorbeeld diskriminerend was, het ek stilgebly, maar nie meer nie. Die liedjie ‘Stop’ gaan oor geslagsgebaseerde geweld. Dis die nuwe ek. Ek gaan nie meer stilbly nie.”

Alvara het nog nooit ’n musiekles gehad nie. Sy glo musiek is iets wat natuurlik in haar is. Sy het haarself geleer om liedjies te skryf en ook om die kitaar te speel.

Sy werk tans aan haar tweede album Ellipses wat vroeg volgende jaar vrygestel sal word. Die album het meestal liefdesliedjies op wat Alvara self geskryf het.

“Dit gaan oor verskillende liefde: familie, vriende en natuurlik paartjies. Die jaar 2020 het so baie van ons geliefdes weggevat en ek dink liefde is wat ons nou nodig het.”

AKTIVISME

Sy wil meer betrokke raak by aktivisme.

“Ek het ’n paar maande gelede ’n video gemaak oor die onderrigstelsel wat nie so insluitend is nie. Dit het baie aandag geniet en ek is besig om ’n organisasie op die been te bring om studente met spesiale behoeftes te help. Soos onder meer met vergrootglase en om meer onderwysers in gebaretaal op te lei.”

Sy het by die Side by Side Early Intervention Center – as deel van ’n internskap – berading aan ouers gegee.

“Dit was moeilik om na die ouers se hulpkrete te luister. Hulle wil graag gaan werk, maar kan nie hul kinders alleen by die huis los nie. Hul hulpeloosheid het my geraak. Ek het vir my ma alles vertel en sy het gesê ek kan niks daaromtrent doen nie, maar as jy gaan en praat mag hulle dalk luister. Jy het ’n stem, gebruik dit om vir ander te praat.”

Dis presies wat sy nou doen. Op elke album is daar een of twee liedjies wat maatskaplike probleme en onregverdighede takel.

“Baie kere vra ek myself af hoekom ek nie welkom voel nie, hoewel ek ’n Namibiese identiteitsdokument het. Hoekom voel dit elke keer of ek iemand belas. Soos byvoorbeeld as ek na ’n ministerie toe gaan dan skree hulle op my omdat ek te lank vat om ’n vorm in te vul. Dit druk my om meer vokaal te wees en vir my regte op te staan.”

RAAD

Haar raad aan die jeug is om hul koppe omhoog te hou en om nie bang te wees om hul regmatige plek in te neem nie.

Hulle moet ook fokus en nie dink hulle is jonk en het baie tyd nie.

“Vir die mense daar buite – veral met alles wat die laaste paar jaar gebeur het – haal asem en laat jouself toe om te huil; dis gesond. Laat jouself toe om te voel. Moenie toelaat dat jy afgestomp raak nie omdat jy voel jou verantwoordelikhede is te veel nie. Voel jou emosies.”

“Vir almal wat gestremd is. Ek is jammer ons moet hierdeur gaan, maar ons het nie ’n keuse nie. Iemand moet iets sê. Dis goed en wel as iemand iets sê, maar as ons saamstaan en hard praat, sal dit hulle dwing om kennis te neem. Gesprekke sal veroorsaak dat hulle ongemaklik in hul stoele begin rondskuif. Ons is geregtig om soos enige ander persoon behandel te word. Dit is niemand se skuld as jy gestremd is nie, maar nou moet ons daaraan werk dat ons op alle vlakke gelyke behandeling begin kry.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer