SA'ners by Nakop-grenspos teruggestuur
SA'ners by Nakop-grenspos teruggestuur

SA'ners by Nakop-grenspos teruggestuur

Altesaam 20 Suid-Afrikaanse grensposte met sy buurlande is gesluit.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Nadat Suid-Afrika sy grense gesluit het, is Suid-Afrikaanse burgers wat in Namibië wou kom kuier, gisteroggend by die Nakop-grenspos in hul spore gestuit.

Volgens mnr. Nathan Africa, die sekretaris-generaal van die Namibië Openbare Passasiersvervoervereniging (NPPTA), moes Suid-Afrikaners op 'n Namibiese busdiens wat passasiers tussen Upington en Windhoek vervoer, gister op die Nakop-grenspos afklim.

“Die Suid-Afrikaanse immigrasiebeamptes het nie toegelaat dat hul burgers verder na Ariamsvlei reis nie en hulle moes na Upington terugkeer,” het Africa aan Republikein gesê.

Altesaam 20 Suid-Afrikaanse grensposte met buurlande is gesluit, behalwe in spesifieke omstandighede. Twee landsgrensposte aangrensend tot Namibië – Vioolsdrif en Nakop – bly oop.

Suid-Afrika het opnuut sy grense tot 15 Februarie gesluit nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand afgekondig het die buurland bly op vlak 3 van inperking.

Mense sal wel steeds toegelaat word om die landsgrensposte binne te kom of te verlaat vir onder meer:

• Die vervoer van brandstof, vrag en goedere;

• Mediese noodgevalle vir 'n lewensbedreigende toestand. Bewyse van behandeling moet by die grenspos getoon word;

• Die terugkeer van Suid-Afrikaanse burgers, permanente inwoners, hul gades en kinders met geldige visums;

• Mense met ander geldige visums soos werk- en sakevisums;

• Naaste familielede wat 'n begrafnis van 'n oorledene wil bywoon;

• Diplomate;

• Die deportasie of vertrek van buitelandse burgers en permanente inwoners na hul lande;

• Die vertrek van Suid-Afrikaanse burgers of permanente inwoners na hul plek van werk, studie of woning buite Suid-Afrika; asook

• Daaglikse pendelaars uit buurlande wat in Suid-Afrika skoolgaan.

Bogenoemde is steeds onderhewig aan Covid-19-maatreëls soos temperatuurmeting en isolasie- of kwarantynreëls.

'n Geldige sertifikaat van 'n negatiewe Covid-19-toets wat nie ouer as 72 uur voor die reisdatum is nie, moet by 'n grenspos getoon word. Indien 'n persoon versuim om die sertifikaat te toon, sal die persoon 'n blitstoets op eie koste moet doen. Indien die persoon positief vir Covid-19 toets, sal hy of sy onderhewig aan kwarantyn op eie koste wees.

Tydens gisteroggend se Covid-19-nuuskonferensie het die immigrasiedirekteur in die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, mnr. Nehemia Nghishekwa, gesê Namibiërs in besit van bestaande immigrasie- en studiepermitte mag wel na Suid-Afrika reis.

“Geen nuwe permitte sal uitgereik word nie,” het hy beklemtoon.

Nghishekwa het gister by navraag bevestig Namibiese studente met studiepermitte mag deur landsgrense na onderwysinstellings in Suid-Afrika reis.

Die meeste Suid-Afrikaanse universiteite begin eers in middel Maart vir eerstejaars, maar in middel Februarie vir terugkerende studente.

Slegs drie internasionale lughawens is vir internasionale lugverkeer in Suid-Afrika oop, naamlik OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg, Kaapstad ­Internasionale Lughawe en King Shaka ­Internasionale Lughawe in Durban.

Ander lughawens is slegs vir binnelandse reisigers oop.



AIRLINK VLIEG

Intussen het die private Suid-Afrikaanse lugredery, Airlink, Dinsdag in 'n verklaring gesê hy gaan voort om vlugte na lande in die streek aan te bied. Dié redery bied vlugte na Windhoek en Walvisbaai aan.

Die besturende direkteur, mnr. Rodger Foster, sê “gesondheid en veiligheid is belangrik, maar so ook ekonomiese kontinuïteit”.

Die vlugte se tye is van so 'n aard dat aandklokmaatreëls nie verbreek word nie.

Die sluiting van Suid-Afrika se grense is 'n groot terugslag vir die Namibiese toerismebedryf, sê die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold.

“Dit veroorsaak weer eens groot huiwering vir toeriste om toere vir die volgende weke en maande te beplan,” het Paetzold gesê.

“Ons vooruitskouing vir die eerste kwartaal lyk baie kommerwekkend. 'n Moeilike tyd lê voor.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer