San soek etiese kode vir navorsing
San soek etiese kode vir navorsing

San soek etiese kode vir navorsing

Die San-mense van Suider-Afrika is een van die mees bestudeerde groepe in die wêreld en vra regulering daarvan.
Francoise Steynberg
Baie navorsers het al die San se jagleefstyl, kliektaal en antieke rotskuns bestudeer, maar sommige San wil ‘n groter sê in sulke navorsing hê.

Op 2 Maart het drie gemeenskappe in Suid-Afrika hul eie etiese kode vir navorsing beding - die eerste van enige inheemse groep in Afrika.

Hoewel die reëls geen wettige gewig dra nie, hoop die outeurs dat wetenskaplikes verplig sal voel om hul voorstelle vir navorsing aan ’n paneel gemeenskapslede voor te lê. Sommige San sal weier om saam met instellings te werk waarvan die personeel nie aan hul reëls voldoen nie.

Volgens die Regshulpsentrum van Namibië (LAC) het die San-gemeenskap van Tsumkwe verlede jaar 'n vergadering gehad waartydens 'n etiese kode vir navorsing oor die San bespreek is.

Die kode is deur die tradisionele leier van die !Xun-, Khwe- en !Khomani-groep van die San ontwikkel wat sowat 8 000 mense in Suid-Afrika verteenwoordig.

“Ons is deur die jare deur navorsers gebombardeer,” sê mnr. Hennie Swart, direkteur van die Suid-Afrikaanse San-instituut.

“Dit is nie ’n kwessie van nie navorsing doen nie, dit is ’n kwessie van hoe om dit reg te doen,” het Swart gesê.

Volgens nature.com spruit die stukrag van die etiese kode voort uit ’n studie van eerste genoom-volgordes in die publikasie Nature1 in 2010 - dié van aartsbiskop Desmond Tutu en vier San-mans van Namibië.

Die Namibiese regering en etiese komitees by die wetenskaplikes se universiteite in Australië, Suid-Afrika en Amerika het dié studie goedgekeur. Die navorsers het ook die San-mans verfilm waar hulle toestemming met behulp van ’n vertaler gegee het.

Maar sommige San-leiers was ontsteld omdat die span nooit met hulle gekonsulteer het nie en ander was bekommerd oor hoe die navorsers inligting oor die San-mans gekry het, volgens mnr. Roger Chennells, ’n menseregteprokureur van Stellenbosch, wat die kode help ontwerp het. Hy het gesê die studie was ’n “massiewe katalisator”.

In die studie is die woord “Boesman” gebruik wat vir sommige San aanstootlik is.

“Geen ander onlangse navorsing word as so beledigend en arrogant teenoor San-leiers gesien nie,” sê Chennels.

Hy verwag dat die gemeenskappe, asook Namibië en Botswana die kode in die toekoms gaan aanvaar. Tot dan sal navorsers wat met hierdie gemeenskappe werk, aangemoedig word om kennis van die kode te neem.

Tog vra ’n genoom-wetenskaplike, mnr. Stephan Schuster, wat ’n studie by die Pennsylvania-staatsuniversiteit doen, of die siening van sekere San-groepe verteenwoordigend van ander San-groepe is.

“Waarom sal ’n San-groep in Suid-Afrika weet wat ons in noordelike Namibië doen?” vra Schuster, wat nou verbonde aan die Nanyang Tegnologiese Universiteit in Singapoer is.

Nadat die genoom-studie gepubliseer is, het San-leiers slypskole met wetenskaplikes, etici en regsgeleerdes bygewoon om navorsingsriglyne te ontwerp. Die Europese Trust-projek, wat navorsingsetiek wêreldwyd bevorder, het dit gefinansier.

Volgens Swart is die proses om die riglyne te bekragtig nog aan die gang, maar navorsers word aangemoedig om voorstelle aan die Suid-Afrikaanse San-raad voor te lê.

Chennels voeg by die raad onderneem om goeie navorsing nie te bekamp of te verhinder nie.

Hy en Swart hoop dat die navorsingskode dieselfde invloed sal hê as riglyne om saam met die Aborigine-gemeenskappe in Australië te werk.

“As navorsers tussen die San wil werk en dit is die protokol, moet hulle dit respekteer. Dit is waaroor maatskaplike regverdigheid gaan,” sê mnr. Himla Soodyall, ’n genetikus by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg, wat saamgewerk het aan ’n studie oor die analisering van die genome van San-individue.

Die span het toestemming vir sy navorsing van die Suid-Afrikaanse San-raad en ’n ander San-organisasie, Die Werkgroep van Inheemse Minderhede in Suider-Afrika, gekry. Die navorsers het hul bevindinge aan die San-gemeenskappe oorgedra en aan die mense vertel wat hulle oor hul genetiese herkoms geleer het.

Me. Emma Kowal, ‘n antropoloog by die Deakin Universiteit in Melbourne, Australië, wat saam met inheemse navorsing-etici werk, dink die kode sal wetenskaplikes aanmoedig om die belange van die San-gemeenskappe op die hart te dra.

“Ons ervaring in Australië is dat navorsers na die tafel sal kom en die manier verander hoe hulle te werk gaan,” sê Kowal. - Nature

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer