• Tuisblad
  • Sake
  • SAL soek nog R4 mjd. van staat om state uit te reik
SAL soek nog R4 mjd. van staat om state uit te reik
SAL soek nog R4 mjd. van staat om state uit te reik

SAL soek nog R4 mjd. van staat om state uit te reik

Volgens ’n nie-uitvoerende direkteur sal die staat se geld verseker dat die R3,5 miljard terugbetaal kan word en die SAL bedryfskapitaal vir die komende jaar het.
Nellie Brand-Jonker – Die SAL soek ’n reddingsboei van die staat van R4 miljard om skuld terug te betaal en sy bedrywighede aan die gang te hou.

Martin Kingston, ’n nie-uitvoerende direkteur, het Vrydag op ’n mediakonferensie na die ondersteuning verwys wat van die staat benodig word toe hy oor die skuld van die lugdiens uitgewei het.

Kingston het gesê die SAL het totale skuld van R21,7 miljard.

“Dit is duidelik vir die direksie, die regering en die leners dat die SAL onvolhoubare skuld op sy balansstaat het.

“Vir die leners om nog kapitaal te verskaf, sal hulle verseker moet word dat hul bestaande blootstelling, indien dit geherstruktureer word, terugbetaal word wanneer dit veronderstel is om te gebeur.”

So lyk die SAL se skuld

Volgens Kingston behels die skuld:

1. Termynlenings van R9,2 miljard.

2. ’n R3,5 miljard-korttermynlening wat gedien het as ’n oorbruggingslening.

3. R4 miljard wat reeds van die staat ontvang is.

5. R5 miljard wat reeds van die staat ontvang is.

Volgens hom moet die termynlenings en die korttermynlening einde Julie terugbetaal word en die direksie is in gesprekke met die banke om die R3,5 miljard terug te betaal en die R9,2 miljard se terugbetaling oor ’n tydperk uit te stel.

“Die terugbetaling van die R3,5 miljard sal die deur vir ons open om addisionele likiditeit in die huidige boekjaar te kry.”

Hy het gesê hulle is seker die banke is bereid om die vervaldatums uit te stel, maar ’n voorwaarde is egter dat die leners ’n mate “van gerustheid” kry en kan sien dat kapitaal van die aandeelhouer (nasionale tesourie in die geval) gekry kan word.

“Die langtermynstrategie berus daarop dat ons genoeg bedryfskapitaal-ondersteuning het tot wanneer ons weer ’n wins toon wat in 2021-’22 gaan wees, soos ons voortdurend die afgelope jaar aangedui het.

“Dit is openbare kennis dat die SAL teen ’n verlies bedryf word en dit is die agtergrond waarteen die versoek vir die R4 miljard se ondersteuning in die huidige boekjaar gedoen is,” het Kingston gesê.

Volgens hom sal die geld van die staat verseker dat die R3,5 miljard terugbetaal kan word en dat die SAL bedryfskapitaal het vir die komende jaar.

Volgens hom besef die nasionale tesourie die behoefte vir addisionele likiditeit om die SAL te bedryf en om die banke die vertroue te gee dat die skuld op die balansstaat geherstruktureer kan word.

In die afgelope week het vier vergaderings met die nasionale tesourie en die direksie plaasgevind.

Hy het gesê die SAL kan nie met sy omkeerplan voortgaan as hy met die onvanpaste vlak van skuld belas is nie.

“Ons moet op gepaste wyse gekapitaliseer word. Dit beteken daar sal ’n behoefte wees vir ’n kapitaalinspuiting waarvan die aandeelhouer deeglik bewus is. Maar hulle het baie eise op ’n beperkte beursie.”

Kingston het ook gesê die staatshulp is ’n vereiste vir die SAL om sy jaarstate te finaliseer op grond daarvan dat die lugdiens ’n lopende saak is.

Die SAL se jaarstate vir die boekjaar tot 2018 is steeds nie uitgereik nie.

Op koers om wins te toon

Die SAL verwag eers ’n wins in die boekjaar tot einde Maart 2022, wat beteken ’n verlies word nog vir die pas afgelope boekjaar en die huidige boekjaar tot einde 2020 verwag.

Die SAL het reeds in die parlement gesê sy verlies vir die boekjaar tot einde Maart 2018 gaan sowat R5,6 miljard wees, hoewel dié jaarstate nog nie uitgereik is nie.

Kingston het gesê die SAL is op koers om teen daardie tyd ’n wins te maak en niks het verander ná die bedanking van die uitvoerende hoof, Vuyani Jarana, die afgelope week nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer