SAL se baas: u2018My geduld is nou opu2019
SAL se baas: u2018My geduld is nou opu2019

SAL se baas: ‘My geduld is nou op’

Setumo Stone – Die baas van die beleërde SAL se geduld is op met die regering se halfhartige pogings om die lugdiens te red.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof, het in ’n onderhoud met City Press, susterkoerant van Rapport, gesê dis tyd dat die regering ’n duidelike standpunt inneem en sy regrukstrategie aanvaar of verwerp.

Die onderhoud was net ’n dag nadat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Jarana moes smeek om aan te bly by die lugdiens.

Jarana het sy bedanking verlede week aangebied omdat hy meen die direksie ondersteun hom nie genoeg nie, het Business Day berig.

’n Aansienlik positiewer Jarana het Donderdag gesê hy sien nog kans vir die noodlanding of opstyging. Dis op die belangrike voorwaarde dat die regering nou ernstig moet raak met sy planne vir die SAL.

Jarana sê hy is dankbaar dat die regering ’n reddingsboei van R5 miljard vir die SAL gegee het, maar die hulp is taamlik ongereeld eerder as ’n duidelike verbintenis.

Eerder as ’n duidelike stem van ondersteuning kry hy tot dusver net “iets soos ’n gefluister in die gange”, het Jarana gesê.

“Dit is ’n staatsbate. Ons is net die toesighouers wat dit namens die staat laat probeer werk. Om goeie toesighouers te wees, moet ons die regering se steun hê.”

Die staatsbeheerde SAL het die laaste keer in 2011 ’n wins gemaak.

Jarana se regrukplan behels R21,7 miljard: ou skuld van R9,2 miljard en nóg R12,5 miljard vir nuwe bedryfskapitaal.

In onlangse gesprekke tussen Jarana en die SAL-direksie is die kwessie bespreek om finansiering te versnel.

“Dit help nie ons kry die geld laat nie. ’n Mens moet sekerheid hê oor die toekoms omdat vertroue ’n belangrike rol hier speel.”

Volgens hom moet verskaffers die versekering hê dat die SAL op lang termyn sal oorleef ten einde handelsooreenkomste aan te gaan.

“As ons nie vooraf sekerheid het oor toekomstige ondernemings van die regering se kant nie, raak dit ons regrukstrategie,” sê hy. “Sekerheid oor geld is net so belangrik soos die geld self.”

Private ekwiteit

As deel van planne om die SAL uit sy geldelike verknorsing te kry, oorweeg die regering om ’n strategiese private-ekwiteit-vennoot aan boord te bring, maar daar lê nog heelwat werk voor, sê Jarana.

In entiteite soos Telkom het so ’n “gemengde model” waarby die private sektor betrek is, suksesvol geblyk.

Volgens Jarana is daar “breë konsensus” oor die idee van ’n strategiese ekwiteitsvennoot, maar die tyd moet reg wees om die regte belegger te vind.

Oor sy planne om die SAL te red, sê hy die lugdiens se portefeulje moet herstruktureer word om te voldoen aan wat die mark soek. Hy sien talle geleenthede in Wes-Afrika, soos die Nigeriese mark van 190 miljoen mense.

Daar word ook beplan om regte te kry om van Nigerië na Amerika te vlieg. Dit sal goed wees as die SAL in Lagos land en van daar na Amerika of Brittanje kan vlieg, het hy gesê. Tans laat die SAL se regte hom toe om in Lagos te land, maar nie om passasiers daar op te laai nie.

Voorts wil die SAL vliegtuie op roetes soos na en van Londen optimaal benut. Dié vliegtuie land in die oggend en staan dan tot 11 ure onbenut voordat hulle in die aand terugvlieg.

’n Toetslopie om dié vliegtuie op kontrakgrondslag deur die dag na die Europese vasteland te laat vlieg, is reeds gedoen toe Liverpool-sokkerentoesiaste vir ’n Uefa-kampioenskapswedstryd uit Londen gevlieg is.

“Ons het 16 vlugsiklusse gedoen om mense te vervoer en ons het geld gemaak.”

Jarana is steeds positief dat die SAL gered kan word en sy finansiële posisie binne drie jaar reggeruk kan word.

Sedert hy verlede jaar die leisels oorgeneem het, is 122 oorbodige vlieëniers geïdentifiseer wat intussen by ander lugdienste geplaas is en groot besparing meegebring het.

Uitgediende arbeidsooreenkomste word hersien, veral dié wat die SAL nie langer kan bekostig nie. Die lugdiens wil ook bedryfskoste besnoei deur regstreeks van vervaardigers van oorspronklike toerusting te koop en die middelman uit te skakel.

Bestaande kontrakte word hersien en daar kan in sommige gevalle tot 30% bespaar word omdat die kontrakte aanvanklik swak onderhandel is, sê Jarana.

“Ons het alreeds R400 miljoen dié jaar gespaar en mik vir ’n miljard volgende jaar.

“Wat my snags wakker hou, is nie of ons dit gaan laat werk nie, maar eerder die pas waarteen ons dit gaan laat werk.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer