SAL-sakeredding: Nog geen teken van plan
SAL-sakeredding: Nog geen teken van plan

SAL-sakeredding: Nog geen teken van plan

Elvira Wood



Daar is nog geen teken van 'n sakereddingsplan vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie.

Louise Brugman, woordvoerder vir die sakeredder Les Matuson, het ­Donderdag aan Netwerk24 bevestig dat 'n brief aan krediteure gestuur is waarin versoek word dat die plan eers teen 31 Maart gepubliseer word.

Daar is teen die spertyd van 17:00 nog geen terugvoering van krediteure ontvang nie, het sy bevestig.

Die plan moes oorspronklik teen einde Februarie bekend gemaak word. Vrydag is die laaste werkdag van Februarie.

Alf Lees, DA-LP, sê in 'n verklaring hulle is nie verbaas dat Matuson saam met Siviwe Dongwane, die mede-sakeredder, aansoek gedoen het om uitstel nie.

“Dit illustreer die gebrek aan dringendheid van die kant van die sakereddingspraktisyns, maar ook van die krediteure,” sê hy in 'n verklaring.

“Hierdie gebrek aan dringendheid is ongetwyfeld 'n produk van die R5,5 miljard-lening, deels deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, en die reddingsboei van R16,4 miljard wat belastingbetalers aan die SAL gaan gee.”

Tito Mboweni, minister van finansies, het dié aankondiging Woensdag in sy begrotingsrede gedoen.

Lees sê as die SAL, ten spyte van groot verliese, nie 'n maatskappy was wat “kunsmatig aan die gang gehou word” nie, is daar geen twyfel dat krediteure nou sou skree dat die plan voorgelê moet word nie. Die sakereddingspraktisyns sou onder geweldige druk wees om dit af te handel.

“In die geval van die SAL blyk dit nie so dringend te wees nie,” sê Lees.

“Dit is waarskynlik omdat krediteure tereg glo dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, nie van plan is om die SAL se likwidasie ooit toe te laat nie. Krediteure glo dus betalings wat die SAL hulle skuld, is gewaarborg.” 

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer