Sal Pravin weer vir Moodyu2019s kan paai?
Sal Pravin weer vir Moodyu2019s kan paai?

Sal Pravin weer vir Moody’s kan paai?

Estelle de Bruyn
Pravin Gordhan, minister van finansies, gaan vandeesweek sy hande vol hê om die kredietgradeerder Moody’s te oortuig dat hy die politieke bedreigings vir Suid-Afrika se staatsfinansies te bowe kan kom.
Indien hy dit nié regkry nie, is ’n afgradering van ons staat­skuld in Desember ’n voldonge feit en gaan dit vir die land al hoe duurder word om geld te leen om sy begrotingstekort te finansier.
Soos enigeen met ’n oortrokke bankrekening weet, raak dit al hoe duurder en moeiliker om daardie rekening terug te betaal as die bank besluit jy is ’n hoërisikogeval en jy moet méér rente opdok.
Moody’s is vandeesweek in Suid-Afrika vir sy jaarlikse konferensie en volgens die tesourie sal adj.pres. Cyril Ramaphosa en Gordhan met die kredietgradeerder vergader.
Vroeg volgende maand sal ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging onder leiding van Gordhan en Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, ook beleggers in die VSA gaan gerusstel dat die land steeds ’n goeie bestemming vir hul kapitaal is.
As die graderingsagentskappe net na ekonomiese syfers gekyk het, sou Gordhan se taak aansienlik makliker gewees het, sê dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van PwC.
“Sedert die vorige keer toe die land se staatskuld deur die kredietgradeerders onder die loep geneem is, het die ekonomie weer sy kop opgelig met ’n stewige groeikoers in die tweede kwartaal.”
Daarby het die handelsbalans ’n merkwaardige ommekeer gedoen in die eerste ses maande vanjaar. ’n Tekort van R22 miljard is tot ’n surplus van R12,5 miljard verklein, inflasie is laer, met tekens dat die pas van prysstygings in die ekonomie kan afplat.
Suid-Afrika se staatsfinansies is volgens Botha “grondliggend stabiel” met ’n relatief lae verhouding van staatskuld tot die totale bruto binnelandse produk (BBP), naamlik 50%. Dis laer as van ons handelsvennote, soos die VSA, Engeland en Indië, se begrotingstekorte.
“Die minister se grootste uitdaging lê nie op die gebied van die ekonomie nie, maar eerder die knelpunte in die finansiële stabiliteit van sommige staatsondernemings.”
Moody’s het juis verlede week gewaarsku die voortgesette waarborge­ aan staatsondernemings wat ’n verlies ly, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), dui op die “vermyding van moeilike strukturele hervormings”.
Die nuus einde verlede week dat Moody’s vyf staatsbeheerde organisasies, insluitend Eskom, Sanral en die Ontwikkelingsbank van ­Suider-Afrika (Obsa), se gradering ondersoek vir moontlike afgradering, het skokgolwe deur die plaaslike aandelemark gestuur en heelwat ­beleggers het plaaslike aandele verkoop.
Moody’s het ook nie doekies omgedraai oor sy voorbehoude nie. ­Politieke binnegevegte is die grootste risiko vir Suid-Afrika se kredietgradering. Dit is “matig, maar aan die styg”.
Die “onsekerheid oor die voort­gesette leierskorps van die nasionale tesourie het beleidsonsekerheid geskep en geleidelik die doeltreffendheid van sekere sleutelinstellings onder­myn om strukturele her­vorming op te lewer,” lui ’n ver-klaring van Moody’s.
Maar wat is die kanse dat Gordhan dié keer die kredietgraderingsagent­skappe kan paai?
Ontleders met wie Sake gepraat het, sê dit sal waarskynlik meer verg as net Gordhan se versekerings.
“Enige verdere aanval op die minister­ sal ons oor die afgrond na rommelstatus stoot,” sê die politieke ontleder Daniel Silke. Hy sê Gordhan verstaan die belangrikheid van beleggersvertroue en sy uitdaging is om sy kollegas so bewus te maak van die gevare as wat hy is.
“As daar enige ernstige pogings is om sy mag te beperk of om hom daarvan te weerhou om die staatsinstellings te herstruktureer, sal dit ’n teken vir die kredietgradeerders wees om ’n negatiewe standpunt oor Suid-Afrika in te neem.”
Volgens Botha is die kombinasie van omvattende korrupsie en minagting van die grondliggende beginsels van finansiële bestuur in die openbare sektor ernstige probleme wat beleggers die skrik op die lyf jaag.
“In Brasilië se geval het dié toedrag van sake onlangs tot die ontheffing van die land se staatshoof, Dilma Rousseff, uit haar pos gelei.
“Suid-Afrika se ekonomie sal ’n gevoelige slag ervaar indien die oënskynlike vete teen hom (Gordhan) nie vinnig beëindig word nie.”
- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer